Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ntshavheni kondig die voorlegging van ‘n leefstyloudit-verslag aan
# Die kabinet veroordeel die massaskietvoorvalle in die Oos-Kaap
# En, krieket: Engeland verklaar op ‘n reusagtige 823 vir sewe in die eerste toets teen Pakistan
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het bevestig die leefstyl-ouditverslag vir senior staatsamptenare is ingedien. Die oudit vorm deel van die regering se pogings om deursigtigheid te verbeter en korrupsie in die openbare sektor te bekamp. Ntshavheni sê die verslag sal help om verskille tussen amptenare se verklaarde bates en inkomste te identifiseer en dus die regering se stryd teen onetiese gedrag ondersteun:
Die kabinet veroordeel die onlangse massaskietvoorvalle in die Oos-Kaap en is diep besorg oor die geweld wat tot veelvuldige sterftes gelei het. Hulle versoek ‘n vergrote polisieteenwoordigheid en betrokkenheid van die gemeenskap om die grondoorsake van geweld aan te pak. Ntshavheni het aan die media gesê die kabinet het herbevestig hulle sal met gemeenskappe saam werk om misdaad te bekamp en ’n veiliger omgewing vir alle landsburgers te bevorder:
# Die direkteur-generaal van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Zane Dangor, sê die Afrika-unie se lidmaatskap in G20 is ‘n beduidende prestasie. Dit volg voor die G20-beraad in Brasilië in November. Dangor het op ‘n nuuskonferensie oor die raadplegende vergadering tussen Suid-Afrika en die Afrika-Unie oor die G20 die fokus op Afrika se Agenda 2063 beklemtoon. Hy het die AU aangemoedig om saam met G20-leiers te werk om Afrika se belange wêreldwyd te bevorder:
# Krieket: Engeland het sy eerste beurt op ʼn ongelooflike 823 vir sewe gesluit verklaar op die voorlaaste dag van die eerste toets teen Pakistan in Multan. Harry Brook het 317 van net 322 balle behaal en Joe Root se bydrae was 262. Dit verskaf aan hulle ʼn eerstebeurt-voorsprong van 267 lopies nadat die gashere ʼn reuse-556 aangeteken het met honderdtalle vir Abdullah Shafique en kaptein Shan Masood. Jack Leach het drie paaltjies vir Engeland laat kantel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-923-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-617-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-67-sent per vat.
# En ten slotte: Die Ministerie vir Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling betreur die dood van oudregter Willem Heath. Nelson Mandela het hom in 1995 aangestel en hy het ʼn sleutelrol vervul om die Spesiale Ondersoekeenheid tot stand te bring en maatstawwe daargestel vir aanspreeklikheid in die Staatsdiens. Minister Thembi Simelane het Heath vereer vir sy verbintenis tot geregtigheid en bygevoeg hy was die verpersoonliking van die hoogste beginsels van integriteit. Die ministerie het meegevoel betuig met sy familie, vriende en kollegas, en sê sy nalatenskap inspireer mense steeds.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….