Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof wys Busisiwe Mkhwebane se gratifikasie-eis van 10-miljoen-rand met koste van die hand
# Die ANC sê Tshwane het dramaties agteruitgegaan sedert die DA oorgeneem het
# En ‘n Nobelpryswenner is soms spyt oor sy ontdekking wat hom die prys besorg het
# Die Gautengse Hooggeregshof het die aansoek van die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, om haar voormalige werkgewer te verplig om ‘n gratifikasie van tien-miljoen-rand aan haar te betaal, met koste van die hand gewys. Regter Omphemetse Mooki het beslis dis absurd vir ’n werkgewer om ’n werknemer wat onder ’n wolk weg is te beloon. Mkhwebane is weens wangedrag afgedank, maar het voor die hof aangevoer die Openbare Beskermer se weiering is ongrondwetlik. Die regter het bevind haar eise is vaag en sonder meriete.
# Die ANC sê Tshwane het dramaties en stelselmatig agteruitgegaan ten opsigte van stadsbestuur en dienslewering aan gemeenskappe sedert die DA die hoofstad in 2016 oorgeneem het. Woordvoerder Mahlengi Bhengu-Motsiri sê agt jaar van DA-geleide koalisies en vyf burgemeesters het die stad tot op die rand van administratiewe ineenstorting gedryf. Sy meen Tshwane is nou ʼn skadu van sy vorige self:
# AfriForum herhaal sy waarskuwing dat die publiek nie mislei moet word deur aansprake van die Departement van Basiese Onderwys dat die BELA-wet nie skoolbeheerrade bedreig nie. Woordvoerder Alana Bailey sê amptenare in Gauteng beplan om enkelmedium Afrikaanse skole te ondermyn. Bailey herbevestig die wet laat die regering toe om toelatings- en taalbeleide te wysig en hulle mik na meer onderrig in Engels. Sy versoek openbare druk om Afrikaanse skole te beskerm tydens komende besprekings oor beleid:
# Krieket: Die Nieu-Zeelandse kolwer Kane Williamson gaan die eerste toets teen Indië in Bengaluru misloop weens ‘n liesbesering. Hy het tydens die tweede toets teen Sri Lanka ongemak verduur en sal behandeling moet kry voor hy in Indië by die span kan aansluit. Die nuweling-kolwer Mark Chapman is by die span van 16 spelers gevoeg om vir Williamson in te staan. Die veelsydige Michael Bracewell is slegs vir die eerste toets beskikbaar voor hy vir die geboorte van sy tweede kind vertrek, en sy plaasvervanger is Ish Sodhi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-179-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-616-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-80-sent per vat.
# En ten slotte: Een van die twee wetenskaplikes wat vanjaar se Nobelprys vir Fisika gewen het, sê hy is soms spyt oor sy lewenswerk oor kunsmatige intelligensie. Die Kanadees John Hinton en die Amerikaner John Hopfield is vereer omdat hulle die grondslag vir K-I gelê het, maar Hinton het verlede jaar gewaarsku dit kan die einde van die mensdom beteken. Hy het daarna uit Google bedank en verduidelik dis moeilik om te verhoed dat slegte mense K-I vir slegte dinge gebruik. Die twee deel die prysgeld van meer as 19,2-miljoen-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….