Nuus 14:00
BULLETIN 13 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gregory Loftus onthul die aanslag van 2.5-miljoen-rand op sy seun Bevan
# Solidariteit kritiseer Media24 oor sy weiering om besonderhede van sy bestuursvergoeding bekend te maak
# En die Internasionale Organisasie vir Migrasie sê migrante-sterftes het skerp gestyg in die eerste vier maande van vanjaar
# Die pa van die vermoorde KwaZulu-Natalse taxi- en insleepdiens-eienaar Bevan Loftus, Gregory, het voor die Madlanga-kommissie getuig sy seun het weggekruip nadat hy gehoor het die polisie-offisier Deena Govender wil hom laat doodmaak. Een van sy mededingers, Clive Nica, het Govender na bewering 2,5-miljoen-rand aangebied vir die moord. Loftus sê hy het hofbeskerming vir sy seun gesoek, maar Bevan is ‘n dag later, in Januarie 2023, vermoor tydens ‘n beweerde polisie-operasie:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se infrastruktuur-veldtog moet plaaslike nywerhede herbou en werk skep. Hy het tydens die Staal- en Ingenieurs-nywerheidsfederasie van Suider-Afrika se presidensiële nywerheidskonferensie in Ekurhuleni, Gauteng, gesê elke infrastruktuurprojek moet plaaslike produksie-vermoë uitbrei, voorsieningskettings versterk, vaardighede ontwikkel en opkomende nywerhede ondersteun. Ramaphosa erken vervaardigers het moeilike bedryfsomstandighede, maar dring aan die huidige belegging-siklus bied goeie geleenthede om die nywerheidsbasis te versterk:
# Solidariteit kritiseer Media24 oor sy weiering om senior bestuursvergoeding bekend te maak as deel van ‘n voortdurende afleggingsproses. Die vakbond sê die inligting word benodig om te bepaal of besparings op bestuursvlak kan help om werksgeleenthede te beskerm. Solidariteit wil besonderhede hê oor uitvoerende personeelkoste, bonusse, aansporings en vakante of afgeskafte bestuursposte. Hy voer aan elke moontlike besparing moet oorweeg word voor gedwonge afleggings. Media24 hou vol die vergoeding en personeelkoste van redakteurs en bestuur is nie tersaaklik vir die raadplegingsproses nie.
# Sokker: Malawi en Kameroen speel Sondag in die eindstryd van die Afrikabekertoernooi vir vroue. Malawi het geskiedenis gemaak deur hul eerste eindstryd te haal deur Algerië 3-1 te klop. Kameroen het die gasvrou, Marokko, 3-1 met strafskoppe geklop na ‘n doellose 120 minute nadat Marokko ‘n deurslaggewende strafskop in bykomende tyd verbrou het. Al vier spanne in die halfeindronde het gekwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Brasilië. Malawi en Algerië sal hul eerste verskyning in die toernooi maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-579-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-385-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-96-sent per vat.
# En laastens: Die Internasionale Organisasie vir Migrasie sê migrante-sterftes het in die eerste vier maande van vanjaar tweevoudig toegeneem langs die Sentrale Middelandse See-roete, en dis drie keer meer as verlede jaar langs die Oostelike Middelandse See-roete. Altesaam 821 mense is dood of vermis langs die sentrale roete – ‘n toename van 111-persent – terwyl 244 mense langs die oostelike roete dood is – ‘n styging van 259-persent. Die organisasie sê uiterste weer, konflikte, ekonomiese druk en veranderings in beleid het migrasie in verskeie streke omvorm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….