Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kantoor van die hoofregter veroordeel Mkhwebane se aanval op die regbank
# ‘n Israelse lugaanval sny Libanon af van Sirië
# En, rugby: Plaaslike VRK-spanne word versterk met die terugkeer van sommige Springbokke vir die naweek se wedstryde
# Die kantoor van die hoofregter sê hy is teleurgesteld met die rasgedrewe opmerkings deur die voormalige Openbare Beskermer en EFF-parlementslid, Busisiwe Mkhwebane, wat op die Appèlhofregter Visvanathan Ponnan gerig is. Mkhwebane verkwalik Indiërs vir haar regsprobleme. Die hoofregter se kantoor sê Suid-Afrika is gebou op die waardes van menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede, nie-rassigheid en nie-seksisme, die oppergesag van die Grondwet en die reg, soos vervat in die Grondwet.
# Die DA eis die ANC moet op ‘n wyse optree wat redelik is en in die beste belang van die publiek met die saamstel van gesamentlike komitees van die Parlement. Die DA-lid George Michalakis sê die DA en die ANC het in Julie ooreengekom om die voorsitterskap van die gesamentlike komitees gelykop te verdeel en die enigste geskil was of daardie voorsitters van die Nasionale Vergadering of die Nasionale Raad van Provinsies sou kom:
# Die Save South Africa-beweging sê hy verwerp die Stad Johannesburg se versoek om Sandton-rylaan te hernoem na Leila Khaled-rylaan. Die woordvoerder, Tebogo Mashilompane, sê omdat Israel en Palestina in ‘n oorlog betrokke is en Suid-Afrika aan Palestina se kant is, behoort dit nie die motivering te wees vir die hernoeming nie:
Libanon sê intussen ‘n Israelse lugaanval op die Siriese grens het die belangrikste internasionale deurpad tussen die twee lande afgesny. Die Libanese kus deel ʼn grens met Israel, met wie Hizbollah in ʼn oorlog gewikkel is, asook Sirië, waar tienduisende mense skuiling soek teen die geweld wat oor die land spoel. Volgens Israel gebruik Hizbollah die pad om wapens van sy bondgenoot, Sirië, af oor die grens te bring.
# Rugby: Die Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap behoort versterk te word met die terugkeer van sommige Springbokke vir die naweek se wedstryde. Dit volg op verlede week se eerste ronde toe die Leeus en die Bulle oorwinnings behaal, maar die Stormers en die Haaie verloor het. Die Leeus speel môremiddag op Ellispark teen Edinburgh en die Bulle verwelkom Ulster op Loftus. Die Haaie speel in Newport, Wallis, teen die Dragons en die Stormers pak Zebre in Parma, Italië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-260-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-659-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….