Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Transnet-spoorvrag begin met die verdeling in twee afdelings te midde van vakbondkommer
# Die DA eis die minister van Verdediging Angie Motshekga moet verduidelik oor die Weermag-krisis
# En, krieket: Jos Buttler keer terug en drie nuwe spelers is in Engeland se groep vir die toer deur die Wes-Indiese Eilande
# Transnet-spoorvrag het amptelik begin met die proses om in ‘n infrastruktuursbestuur- en ‘n bedryfsmaatskappy te verdeel. Die ontbondeling is een van die voorwaardes vir die waarborg van 47-miljard-rand van die Nasionale Tesourie. Die Verenigde Nasionale Vervoervakbond meen egter die verdeling is voortydig, en is bekommerd oor werksekerheid, infrastruktuurgereedheid en die koste van ‘n uitvoerende hoof en die vestiging van ‘n afsonderlike raad. Transnet sê hy sal egter steeds met arbeid en werknemers skakel oor die vordering met die proses.
# Die DA betreur die versuim van die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, om ’n verslag voor te lê oor die stand van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Die verslag moes reeds op die 17de van verlede maand die Nasionale Raad van Provinsies bereik het. DA-woordvoerder, Nicholas Gotsell, sê die minister se versuim is ʼn duidelike bewys die Weermag verkeer in ʼn krisis:
# Drie verdagtes wat gesoek is vir ʼn reeks afpersing- en moordsake in die eThekwini-distrik is in twee afsonderlike voorvalle in KwaZulu-Natal doodgeskiet. In die eerste voorval het die polisie inligting opgevolg oor ʼn verdagte wat gesoek word in verband met vier gevalle van afpersing en vier van moord. Polisiewoordvoerder Robert Netshiunda sê toe hulle by ʼn huis in Inanda aankom, het die verdagte op hulle losgebrand, waarna hy doodgeskiet is:
# Die regering van die Dominikaanse Republiek sê hy beplan om tot tien-duisend ongedokumenteerde migrante per week uit die land te sit om onbeheerde migrasie te bekamp. Duisende Haïtiane het oor die grens na die Dominikaanse Republiek gevlug. Volgens die Verenigde Nasies se Internasionale Migrante-organisasie het dié land verlede jaar meer as 200-duisend mense na Haïti teruggestuur. President Luis Abinader sê die deportasies sal ʼn streng protokol volg wat menseregte waarborg.
# Krieket: England se witbal-kaptein, Jos Buttler, is ingesluit in die groep vir die toer deur die Wes-Indiese Eilande later die maand. Hy het verlede maand Engeland se T20- en eendagreeks teen Australië misgeloop terwyl hy steeds herstel het van ‘n kuitbesering. Die drie nuwelinge Jafer Chohan, die Suid-Afrikaans-gebore John Turner en Dan Mousley is ook ingesluit in die groep van 14 spelers. Engeland kom in drie eendagwedstryde en vyf T20s teen die Windies te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-727-dollar-4-sent. Die prys van goud is twee-duisend-645-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….