Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA bekom ‘n interdik teen John Hlophe se deelname aan die Regterlike Dienskommissie
# Msimanga sê Gautengers wil bestendigheid in munisipaliteite hê
# En, rugby: Die Suid-Afrikaanse spanne skop hulle VRK-veldtogte af met twee tuis- en twee wegwedstryde
# Die DA verwelkom die uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat ‘n dringende interdik toegestaan het om die MK-party se parlementêre leier, John Hlophe, te verbied om deel te wees van die Regterlike Dienskommissie. Die DA se nasionale woordvoerder, Karabo Khakhau, is verheug oor die uitspraak en beskryf dit as ʼn oorwinning vir regterlike integriteit. Sy sê dit versterk Suid-Afrika se verbintenis om ʼn onafhanklike en etiese regbank te handhaaf:
# Die DA se leier in Gauteng, Solly Msimanga, sê inwoners wil bestendigheid in die provinsie se munisipaliteite hê. Hy het gepraat op ‘n nuuskonferensie ná Cilliers Brink se verwydering as burgemeester van Tshwane. Msimanga sê die regering van nasionale eenheid moet ook in die munisipaliteite in Gauteng gesien kan word:
# Die Wes-Kaap ondervind groot druk op sy infrastruktuur en openbare dienste weens vinnige bevolkingsgroei wat hoofsaaklik veroorsaak word deur migrasie van ander provinsies. Volgens die provinsie se ekonomiese oorsig- en vooruitsigverslag sal netto-migrasie 51,2-persent van die totale bevolkingsgroei tussen 2022 en ’26 verteenwoordig. Die provinsie het tussen 2015 en vanjaar ‘n bevolkingsgroei van 19,6-persent ervaar. Die LUR vir Finansies, Deidré Baartman sê noukeurige beplanning en aansienlike beleggings is nodig om die bevolkingsgroei te kan hanteer.
# Rugby: Die vier Suid-Afrikaanse spanne begin môre met hulle nuwe seisoen van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Leeus is die gashere vir Ulster in Johannesburg en die afskoptyd is net voor een-uur. Die Bulle en Edinburgh sê mekaar drie-uur die stryd aan op Loftus, waarna die spanne bietjie gaan uitspan en die wedstryd tussen die Springbokke en Argentinië in Mbombela kyk. Die Haaie se wedstryd teen Connacht in Galway begin 8.35, terwyl die Stormers Ospreys dieselfde tyd in Bridgend pak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-565-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-663-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-12-sent per vat.
# En ten slotte: Coldplay gaan volgende jaar Taylor Swift se rekord verbysteek met ‘n baanbreker-reeks van tien konserte in die Wembley-stadion in Londen. Swift het verlede maand die Europese gedeelte van haar Eras-toer met agt konserte op Wembley afgesluit en die rekord vir solo-sangers oortref wat Michael Jackson met sy Bad Tour in 1988 opgestel het. Coldplay se toer is ter ondersteuning van hulle tiende album, Moon Music, wat volgende Vrydag bekendgestel gaan word. Kaartjies vir die toer is van vandag beskikbaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….