Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SADOU begin ‘n veldtog teen besnoeiings in onderwysbegrotings
# Giwusa sê Eskom se voorgestelde tariefverhoging van 36-persent is nog ‘n vorm van monopolistiese misbruik
# En, tennis: Nog ‘n eersteronde-nederlaag vir Stefanos Tsitsipas
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie stel môre ‘n veldtog bekend teen besnoeiings in onderwysbegrotings. Die hoofsekretaris, Mugwena Maluleke, het op die vakbond se tiende kongres in Boksburg beklemtoon onderwys is ‘n nasionale belegging. Hy waarsku die besnoeiings sal leerders sowel as onderwysers benadeel, en vra werksekerheid en verbeterde vaardighede vir opvoeders:
# Die vakbond Giwusa sê hy is onverbiddelik gekant teen die elektrisiteitstariefverhoging van 36-persent wat Eskom voorgestel het. Giwusa se president, Mametlwe Sebei, sê die Nasionale Energiereguleerder is hopeloos daarmee om openbare, maatskaplike en omgewingsbelange te dien. Hy sê benewens toenemende armoede, werkloosheid, ongelykheid en besoedeling, is een van die ellendes die beskikbaarheid en die prys van elektrisiteit:
# Die GOOD-party sê die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, moet dringend verduidelik hoe die polisie en die Valke die Stad Kaapstad se beweerde bande met bendes gaan ondersoek. Die party se sekretaris-generaal, Brett Herron, beweer ontwikkelings teken ʼn prentjie van die misdaadwêreld se bedrywighede in dié munisipaliteit, wat blykbaar die beste in die land bestuur word. Hy sê kommer bestaan oor die stadsbestuurder, Lungelo Mbandazayo, se veiligheid te midde van berigte dat swaar-gewapende lede van die 28s-bende naby sy huis opgemerk is:
# Tennis: Stefanos Tsitsipas se treurmares duur voort. Hy is in die eerste ronde van die Japannese Ope uitgeskakel. Die Griek, wat van derde tot twaalfde posisie op die wêreldranglys teruggesak het, het teen die Amerikaner Alex Michelson verloor. Tsitsipas het vroeër die eindstryd van twee Grand Slam-toernooie gehaal, maar is verlede maand ook in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope uitgeskakel. Hy kon die afgelope twee seisoene net twee toernooie wen. Jack Draper van Brittanje, wat die halfeindronde in New York gehaal het, is deur na die tweede ronde in Kōtō.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 23-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-869-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-669-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Elon Musk het ‘n romantiese betrokkenheid by die Italiaanse eerste minister, Giorgia Meloni, ontken. Die miljardêr-entrepreneur en Italië se eerste vroulike eerste minister is hierdie week gesellig saamgesien op ‘n strikdas-geleentheid in New York waar Musk ‘n toekenning aan Meloni oorhandig het. Hy het die Italiaanse leier geloof en ook genoem sy is selfs mooier van binne as van buite. Sy het self komplimente uitgedeel en gesê Musk is ‘n kosbare genie. Meloni en haar jarelange lewensmaat is verlede jaar uitmekaar. Musk was voorheen drie keer getroud.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….