Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube eis onmiddellike optrede om die onderwys-sektor se finansiële krisis aan te pak
# Die Volkswagen Polo word voortaan net in Suid-Afrika vervaardig
# En, gholf: ‘n Belowende jong Australiese speler se oogbesering kan sy loopbaan bedreig
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het ‘n beroep gedoen vir dringende maatreëls om aandag te skenk aan die onderwys-sektor se finansiële krisis. Sy het tydens ‘n nuuskonferensie die ernstige uitwerking van deurlopende begrotingsbesnoeiings uitgelig, aangesien dit dreig om onderwysposte te verminder, klasgroottes te vergroot en die gehalte van onderwys te benadeel. Gwarube het samewerking tussen die onderwys-sektor en die Nasionale Tesourie aangemoedig om bykomende befondsing te verseker en kritieke dienste soos skoolvoeding en vervoer te beskerm:
# Volkswagen gaan voortaan sy Polo-voertuie slegs in Suid-Afrika vervaardig nadat dit vier dekades lank in Spanje gedoen is. Die laaste Polo is in Julie in die Pamplona-aanleg in Spanje gemaak, en die motors word nou uitsluitlik by die Kariega-aanleg in die Oos-Kaap aanmekaargesit. Die oorgang is deel van ‘n belegging van vier-miljard-rand wat verseker Polo’s word tot minstens 2029 hier gemaak. Die vervaardiging van ʼn nuwe sportnuts-model sal na verwagting in 2027 in Kariega begin.
# SANParke maan stappers om in groepe te loop en veiligheidsmaatreëls na te kom. Dit volg nadat ʼn Amerikaanse toeris se liggaam op Tafelberg gevind is. Die vermiste stapper, Brook Cheuvront, se liggaam is Sondag na ʼn uitgebreide soektog op Duiwelspiek aangetref. Besoekers word ook aangeraai om roetes versigtig te beplan en iemand in te lig oor hulle verwagte terugkeertyd. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê stappers moet die regte klere dra en noodkontaknommers byderhand hê voordat hulle begin stap:
# Eerste minister Keir Starmer raai Britte in Libanon aan om onmiddellik pad te gee. Ongeveer 700 Britse soldate word in Ciprus ontplooi in geval van ʼn noodontruiming. Starmer sê dis belangrik om nou te vertrek te midde van vrese van ʼn volskaalse oorlog tussen Israel en Hizbollah. Twee Britse oorlogskepe is reeds in die gebied en sal gebruik word indien ʼn ontruimingsoperasie beveel word, met vliegtuie en helikopters van die Lugmag ook op bystand. Israel het verlede week met ʼn reuse-aanslag teen Hizbollah begin.
# Gholf: ʼn Opkomende Australiese speler wat hierdie maand sy debuut in die Amerikaanse PGA-toer gemaak het, veg om sig in sy oog te behou nadat ʼn bal hom tydens ʼn pro-am-toernooi getref het. Die 20-jarige Jeffrey Guan is op ʼn toernooi naby Sydney in die gesig getref en per lug na die hospitaal gehaas vir ʼn operasie. Guan het onlangs ʼn ooreenkoms onderteken met dieselfde bestuursmaatskappy wat die major-wenners Jon Rahm en Phil Mickelson verteenwoordig. Hy het ʼn borgskap-uitnodiging ontvang na die PGA-toer se Procore-kampioenskap wat hierdie maand in Kalifornië plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-668-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-656-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….