Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AZAPO versoek die regering om in te gryp met swak pasiëntebehandeling in openbare hospitale
# Motorbedryf-personeelvereniging vra werkgewers om aandag te gee aan afknouery en teistering
# En, sokker: die omvang van Rodri se besering is nog onbekend na ‘n dramatiese gelykop-uitslag met Arsenal
# AZAPO versoek die regering om in te gryp met die swak behandeling van pasiënte in openbare hospitale nadat ‘n moeder haar gestremde kind in haglike toestande by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Tshwane aangetref het. Die party veroordeel die gebrek aan respek van die personeel. AZAPO-woordvoerder, Jabu Rakwena, versoek die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, om die standaarde vir gesondheidsorg in openbare gesondheidinstellings te verbeter, aangesien hierdie kwessies die geloofwaardigheid van die Nasionale Gesondheidsversekering-inisiatief bedreig:
# Die Personeelvereniging van die Motorbedryf vra werkgewers om afknouery en teistering in die werkplek te ondersoek. Hulle waarsku die slegte behandeling van werknemers kan lei tot moontlike skade aan reputasies en finansiële verlies. Die woordvoerder van die vereniging, Sonja Carstens, versoek werkgewers om duidelike grieweprosedures op te stel, hulle teen onaanvaarbare gedrag uit te spreek en om ʼn beleefde en veilige werksomgewing vir almal te vestig:
# Die Stad Kaapstad se Direktoraat vir Menslike Nedersettings sê hy wil deur sy titelakte-program sterker gemeenskappe bou. Sowat 12-duisend titelaktes gaan aan kwalifiserende inwoners oorhandig word en die metro maak goeie vordering om die doelwit te bereik. Die burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Carl Pophaim, sê die program is die grondslag van die metro se werk om gemeenskappe te bemagtig deur huiseienaarskap en volhoubare ontwikkeling in gemeenskappe te bevorder.
# Die Israelse minister van Verdediging, Yoav Gallant, vra die publiek om kalm te bly nadat militêre magte die mees wydverspreide lugaanvalle nog teen die Iran-gesteunde Hezbollah uitgevoer het. Die aanvalle het in die suide van Libanon, die oostelike Bekaa-vallei en die noordelike streek naby Sirië plaasgevind. Volgens Gallant sal hulle voortgaan met aanvalle in Libanon totdat inwoners in die noorde weer veilig tuis is. Die aanvalle is van die swaarste oorgrens-gevegte in ʼn jaar tussen Israel en Hamas in Gaza.
# Sokker: Die bestuurder van Manchester City, Pep Guardiola, sê dit sal ‘n paar dae duur om die omvang te bepaal van die besering aan middelveldspeler, Rodrigo Cascante, bekend as Rodri. Die Spaanse internasionale speler moes die veld in die 21ste minuut verlaat in City se gelykop-wedstryd van twee-elk teen Arsenal in die Premierliga. Sedert Rodri in 2019 by City aangesluit het wen hulle 74-persent van die wedstryde waarin speel en verloor 11-persent. Wanneer hy nie speel nie, wen hulle 64-persent van hul wedstryde en verloor 24-persent. Guardiola glo die uitslag kon anders gelyk het indien Rodri opp die veld gebly het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-511-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-622-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….