Nuus 14:00
BULLETIN 18 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Statistieke SA meld laer inflasie vir drie agtereenvolgende maande tot 4,4% aan
# SKOOR se voorsitter sê daar is verbeterings met onreëlmatige uitgawes by Prasa
# En, Bill Gates sê klimaatsverandering sal die krisis in kindergesondheid vererger weens wanvoeding
# Statistieke Suid-Afrika sê verbruikersprysinflasie het vir die derde agtereenvolgende maand gedaal tot 4,4-persent in Augustus van 4,6-persent in Julie. Dit is die laagste inflasiekoers sedert April 2021. Laer inflasie is ook in vervoer, behuising en restaurante aangemeld, terwyl die voedsel-, nie alkoholiese drankies, alkohol, en tabaksektore stygings aangemeld het. Ricardo Johnson van Statistieke SA sê voedselinflasie word gedryf deur hoër broodpryse, graankosse en suiwelprodukte:
# Die voorsitter van die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge, Songezo Zibi, sê daar is verbeterings in onreëlmatige uitgawes by die Passasierspooragentskap. Die ouditeur-generaal het gister tydens die komitee-sitting in die parlement gesê Prasa het in die 2022/2023-boekjaar onreëlmatige uitgawes van 3,8-miljard-rand gehad, vergeleke met 3,3-miljard-rand in die 2021/2022-boekjaar. Zibi sê die komitee sal steeds die agentskap bystaan om sy mandaat uit te voer:
# Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het ‘n nuwe vennootskap aangekondig wat daarop gemik is om landboutegnologie te bevorder en plaaslike boere te ondersteun. Hierdie vennootskap met die Amerikaanse landboumasjinerievervaardiger CASE IH, is gesluit met die ondertekening van ‘n ooreenkoms van verstandhouding deur Mogale Sebopetsa en Stephan Nel. Dit fokus op presisielandbou en innovering. Die LUR, Ivan Meyer, het die belangrikheid van hierdie belegging beklemtoon vir ekonomiese groei, uitvoerpotensiaal en tegnologiese vooruitgang in die streek.
# Die filantroop en medestigter van Microsoft, Bill Gates, sê wanvoeding is die wêreld se grootste krisis vir kindergesondheid. Die Bill en Melinda Gates-stigting sê in ‘n verslag nóg 40-miljoen kinders sal teen 2050 weens klimaatsverandering vertraagde groei ondervind, terwyl nóg 28-miljoen weens vermorsing sal ly. Dit is die ergste en onomkeerbare vorm van wanvoeding as gevolg van klimaatsverandering. Gates sê nagenoeg 90-persent van die negatiewe gevolge van klimaatsverandering is in die voedselstelsel verteenwoordig.
# Gholf: Die driemalige major-wenner Jordan Spieth sê hy verwag om vroeg volgende jaar na die PGA-toer terug te keer nadat hy ‘n operasie aan sy gewrig moes ondergaan. Die 31-jarige ondervind sedert Mei verlede jaar probleme met sy gewrig toe hy hy ‘n besering opgedoen het terwyl hy met sy seun gespeel het. Hy wou aanvanklik nie laat opereer nie, maar liewer rus sodat dit self herstel. Die Amerikaner is uiteindelik verlede maand geopereer. Spieth sê hy herstel goed:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-604-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-574-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….