Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verbruikersvertroue bereik die hoogste vlak sedert 2019
# Die Automobiel-Assosiasie verwelkom die verwagte brandstofprysverlaging
# En, krieket: Lungi Ngidi sê die Proteas onderskat Afghanistan glad nie
# Die FNB/Buro vir Ekonomiese Navorsing se Verbruikersvertroue-indeks het gedurende die derde kwartaal van 2024 van minus-tien tot minus-vyf gestyg, die hoogste vlak sedert 2019. Die buro sê dit is die tweede agtereenvolgende vyfpunt-verhoging, wat dui op ‘n sterk herstel in verbruikersentiment. Hoër-inkomste huishoudings, gesteun deur verbeterings in finansiële vooruitsigte en duursame goedere-aankoopvertroue, het die grootste styging ervaar. FNB se hoofekonoom, Mamello Matikinca-Ngwenya, skryf dit toe aan ekonomiese bestendigheid, dalende brandstofpryse en verwagtinge oor rentekoersverlagings.
# Die Automobiel-Assosiasie verwag volgende maand ‘n aansienlike verlaging in die brandstofprys, gebaseer op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds. Petrol, diesel en lampolie sal daal met die prys van petrol wat met een-rand-26-sent per liter kan daal. Woordvoerder Eleanor Mavimbela skryf dit toe aan laer internasionale produkpryse en die sterk vertoning van die Rand teenoor die Amerikaanse Dollar:
# Die DA in Gauteng sê hy verwekom president Cyril Ramaphosa se magtiging aan die Spesiale Ondersoekeenheid om bewerings van ernstige wanadministrasie in die provinsie se departement van Menslike Nedersettings te ondersoek. Die SOE sal onder meer die departement se toekenning van twee tenders ondersoek. Mervyn Cirota van die DA sê dit sluit in die konstruksie van 150 ablusie- en sanitasiefasiliteite by die Sicelo Shiceka-informele nedersetting:
# Krieket: Die Proteas-manspan is tans in die Verenigde Arabiese Emirate waar hulle vanaf môre in Sjarja in ʼn eendagreeks van drie wedstryde teen Afghanistan te staan kom. Suid-Afrika bou aan diepte in sy groep deur sommige sleutelspelers ʼn blaaskans te gun en terselfdertyd ander terug te verwelkom, soos Lungi Ngidi, wat na ʼn kuitbesering slaggereed is om die boulaanval te lei. Die 28-jarige snelbouler sê hulle onderskat Afghanistan glad nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-78-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-571-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-43-sent per vat.
# Ten slotte: Die beleërde hip-hop-musiekmagnaat Sean Diddy Combs is in New York gearresteer ná ʼn groot jurie-bevinding. Dit kom te midde van ʼn voortgesette federale ondersoek ná ʼn klopjag in Maart op twee van sy eiendomme in Los Angeles en Miami. Die gewese Danity Kane-lid, Dawn Richard, het vroeër die maand ʼn saak teen Combs aanhangig gemaak waarin sy hom van vermeende verbale mishandeling, aanranding, seksuele mishandeling en doelbewuste emosionele stres beskuldig. Combs se prokureur, Marc Agnifilo, sê hulle is teleurgesteld met die besluit om sy kliënt volgens hom onregverdig te vervolg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….