Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel die implementering van sekere BELA-wetklousules uit vir verdere hersiening
# BetterBond sê rentekoersverlagings word volgende week verwag
# En, krieket: Die Nieu-Seeland/Afghanistan-toets word afgestel na vyf nat dae
# President Cyril Ramaphosa het die implementering van sekere klousules in die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette vir drie maande uitgestel om tyd in te ruim vir nog debatte. Die uitstel verwys spesifiek na klousules oor skooltoelating en taalbeleid. Ramaphosa het in sy toespraak tydens die ondertekeningseremonie van die wet by die Uniegebou in Pretoria gesê die uitstel verteenwoordig ‘n verbintenis om kwelvrae aan te spreek en om die samewerking van verskillende politieke partye te verseker voor die wysigings in werking tree:
# BetterBond sê daar is ʼn besliste gees van optimisme in die lug voor aanstaande week se vergadering van die Monetêre Beleidskomitee van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Die nasionale hoof van verkope van BetterBond, Bradd Bendall, sê inflasie is op die laagste vlak in drie jaar en daar is ook aanduidings dat die Amerikaanse Federale Reserwebank sy koerse vandeesmaand sal verlaag, met Suid-Afrika waarskynlik kort op sy hakke:
# ‘n Span van vier bemanningslede op ‘n privaat sending aan boord ‘n SpaceX-kapsule het gister die wêreld se eerste kommersiële ruimte-uitstappie voltooi. Die miljardêr tegniese uitvoerende hoof, Jared Isaacman en ‘n ingenieur van SpaceX, Sarah Gillis, het die eerste privaat-bemanningslui geword om in die ruimte te loop. Die ander spanlede, Scott Poteet en Anna Menon het in die kapsule agtergebly. Die bemanning van Polaris Dawn gaan nog ‘n paar dae in ‘n wentelbaan bly om oorblywende sendingtake uit te voer, insluitend byna 40 eksperimente.
# Krieket: Die heel eerste toets tussen Neu-Seeland en Afghanistan op ʼn veld naby Delhi in Indië is die agste toets in bykans 150 jaar wat afgelas is sonder dat ʼn bal geboul is. Geen spel was moontlik op enige van die vyf geskeduleerde dae nie weens ʼn kombinasie van ʼn swak dreineringstelsel en nat weer. Die Groter Noida-veld sou die eerste keer ʼn toets aanbied maar sal moontlik nou sy toetsstatus verloor.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-112-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-566-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-65-sent per vat.
# Ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid het hulde gebring aan die voormalige kabinetsminister, Pravin Gordhan. Uitvoerende hoof van SACCI, Alan Mukoki, is vol lof vir sy uitgesprokenheid en professionalisme in ekonomiese beleid. Dit sluit in sy ampstermyn as Kommissaris van die SA Inkomstediens, minister van Finansies en van Openbare Ondernemings. Mukoki gee erkenning aan Gordhan se sleutelrol om sterk verhoudinge tussen die sakewêreld en die regering op te bou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….