Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die bedrogsaak teen Ace Magashule se voormalige assistent word uitgestel
# ‘n Onderwysaktivis sê Ramaphosa moet verseker alle klousules in BELA-wet voldoen aan die Grondwet
# En Rusland en China doen gesamentlike krygsoefeninge in die See van Japan
# Die Vrystaatse Hooggeregshof het die voorverhoor van oudpremier Ace Magashule se gewese persoonlike assistent, Moroadi Cholota, tot 18 Oktober uitgestel. Sy word aangekla van bedrog, korrupsie en geldwassery wat verband hou met die asbesdakprojek van 2014. Die 37-jarige is uit op borgtog van twee-duisend-500-rand. Haar dringende aansoek om haar inhegtenisneming en uitlewering uit Amerika onwettig verklaar te kry, is vroeër van die hand gewys.
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, versoek president Cyril Ramaphosa om te verseker die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette voldoen aan die Grondwet voor hy dit onderteken. Hy versoek die president om dubbel seker te maak van die bepalings oor moedertaalonderrig. Volgens Makaneta is dit noodsaaklik dat die wetsontwerp aan die Grondwet voldoen en die regte van leerders bevorder om onderrig in hulle moedertaal te ontvang:
# Die Pensioenfondsberegter, Muvhango Lukhaimane, waarsku die nuwe tweepot-aftreestelsel, wat hierdie maand in werking getree het, kan wydverspreide wanoptrede deur werkgewers onthul met betaling van pensioenfondsbydraes. Haar kantoor sê 82-persent van die huidige klagtes gaan oor sulke oortredings. Lukhaimane verwag hierdie klagtes sal verder toeneem wanneer werkers op teenstrydighede afkom. Daar is bevind talle werkgewers het nie enige bydraes tot die pensioenfondse van hulle werkers gemaak nie.
# Russiese en Chinese oorlogskepe het begin met gesamentlike oefeninge in die See van Japan as deel van ‘n groot vlootoefening wat Moskou deur die waters van die Noordelike Halfrond en die Stille Oseaan sal laat vaar. Moskou en Beijing het die afgelope jare militêre en ekonomiese samewerking verdiep, met albei wat probeer om wat hulle sien as ‘n Verenigde State-geleide wêreldorde teen te werk. President Vladimir Putin sal die Russies-geleide oefening formeel open. Die oefeninge sal meer as 400 oorlogskepe, duikbote en ondersteuningsvaartuie behels en tot Maandag duur.
# Sokker: Die voormalige afrigter van Tottenham en Chelsea, Mauricio Pochettino, is aangestel as hoofafrigter van Amerika se nasionale manspan. Hy vervang Gregg Berhalter, wat in Julie afgedank is. Die 52-jarige Argentyn sal die land na 2026 se Wêreldbekertoernooi lei wat in Amerika, Kanada en Mexiko plaasvind. Amerika se sokker-sportdirekteur, Matt Crocker, sê Pochettino is ‘n reeks-wenner met ʼn groot passie vir die ontwikkeling van spelers:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-529-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-520-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….