Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke doen ‘n klopjag by die Polokwane-munisipaliteit om beslag te lê op bewyse van Thembi Simelane se VBS-lening
# Rugby: Toeskouers word aangemoedig om die gratis parkeer-en-rydiens te gebruik vir môre se toets tussen die Springbokke en die All Blacks
# En die tydskrif Time maak sy 2024-lys van invloedrykste mense in kunsmatige intelligensie bekend
# Die Valke het ‘n klopjag uitgevoer op die Polokwane-munisipaliteit in Limpopo en beslag gelê op bewysstukke wat verband hou met die minister van Justisie, Thembi Simelane, se lening van 575-duisend-600-rand vir ʼn koffiewinkel in Sandton van ʼn tussenganger met bande met VBS. Die soektog was toegespits op haar gewese persoonlike assistent en dokumente en kommunikasie oor die 349-miljoen-rand wat die munisipaliteit in VBS belê het. Simelane het die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie verseker sy het die korrekte maatreëls gevolg:
# Die MK-party eis die herinstelling van Ithala se banklisensie en sê die KwaZulu-Natalse ontwikkelingsbank het ‘n baken van hoop en insluiting vir arm mense geword. Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het die bank se lisensie opgeskort omdat dit nie voldoen het aan vereistes vir gesonde finansiële bestuur nie. MK sê die Wysigingswet op Finansiële Aangeleenthede sowel as die Bankwet moet gewysig word om voorsiening te maak vir die registrasie en lisensiëring van provinsiale instellings soos Ithala om volledige bankdienste te kan aanbied.
# Transnet sê hy wil voor die einde van die jaar privaat treinoperateurs toelaat om aansoek te doen om die spoornetwerk te gebruik. Dit beteken privaat operateurs sal teen April volgende jaar toegang hê tot die spoornetwerk. Woordvoerder Yolisa Kani sê dis deel van ʼn strategie om die spoornetwerk se doeltreffendheid te verbeter, koste te verlaag en ekonomiese groei te ondersteun deur uitgebreide infrastruktuur en samewerking met privaat operateurs. Kani sê ʼn Vervoer-ekonomiese Reguleerder sal toegang tot die spoornetwerk reguleer.
# Rugby: Toeskouers vir môre se Rugbykampioenskapstoets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland in Kaapstad word aangemoedig om gebruik te maak van die stad se gratis parkeer-en-rydiens na die Kaapstad-stadion. Die pendeldiens sal van 12-uur af beskikbaar wees by Century City, die Universiteit van Kaapstad, die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum, Thibaultplein en die Burgersentrum. Die laaste MyCiTi-bus sal 9.30 die aand van die stadion af vertrek. Daar sal ook ‘n toegewese e-taxigebied in Hoofweg, Groenpunt, wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-3-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-517-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: Die tydskrif Time het sy 2024-lys van invloedrykste mense in kunsmatige intelligensie bekendgemaak. Dit sluit Google en Alphabet se uitvoerende hoof, Sundar Pichai, in, asook Microsoft se hoof, Satya Nadella, OpenAI se hoof, Sam Altman, Meta se hoof, Mark Zuckerberg, en ByteDance se hoof en medestigter, Liang Rubo. Time se hoofredakteur, Sam Jacobs, het aan CNBC gesê vanjaar se lys toon voorbeelde van die moontlikhede vir K-I as dit uit die laboratorium na die wêreld beweeg:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….