Nuus 14:00
BULLETIN 20 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Slegte nuus vir rentekoerse met inflasie wat in Februarie tot 5,6-persent styg
# Jacob Zuma se poging om aanklaer Billy Downer uit sy korrupsie-verhoor te verwyder word weer van die hand gewys
# En tennis: Sabalenka gaan in Miami deelneem in weerwil van haar kêrel se dood
# Jaarlikse verbruikersinflasie het in Februarie gestyg tot 5,6-persent. In Januarie het dit op 5,3-persent gestaan en in Desember op 5,1-persent. Produk-sektore wat die styging aangedryf het, sluit in behuising en nutsdienste, versekering, voedsel en nie-alkoholiese drankies, en vervoer. Statistieke SA sê daar was ‘n 10,3-persent maand-tot-maand-verhoging in mediesefonds-premies, terwyl alle soorte versekering ook toegeneem het. Eiers is 30,7-persent duurder as ‘n jaar gelede. Jaarlikse rys-inflasie het in Februarie verder gestyg tot 25-persent. Verskeie produkte is egter goedkoper as ‘n jaar gelede, soos broodmeel, beskuit, klaargemengde meel, en pasta.
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, het oudpresident Jacob Zuma se tweede aansoek om die aanklaer Billy Downer uit sy wapentransaksie-korrupsiesaak te verwyder, van die hand gewys. Regter Nkosinathi Chili het in sy uitspraak gesê Zuma het versuim om aan te toon hoe Downer se voortgesette rol sy reg op ‘n regverdige verhoor sou skend. Zuma se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, sê hulle wil teen die uitspraak appelleer:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê hy hou Rand Water regstreeks aanspreeklik vir watervermorsing, asook sy moontlike aandeel in die onlangse waterkrisis in Johannesburg en die Mogale City-plaaslike munisipaliteit. Woordvoerder Amanda de Lange sê byna twee-duisend kiloliter water vloei elke sekonde uit Rand Water se drie gebarste watertoevoer-pypleidings:
# ActionSA sê president Cyril Ramaphosa se erkenning dat die ANC-regering onderhoud aan noodsaaklike infrastruktuur verwaarloos het, is kommerwekkend. Ramaphosa het op die Infrastruktuur-simposium in Kaapstad gesê daar is ‘n neiging om goeie infrastruktuur te ontwikkel, maar dit word nie onderhou nie. Michael Beaumont van ActionSA sê Suid-Afrika moet gefokusde, langtermyn-beleggingsplanne vir noodsaaklike infrastruktuurprojekte hê wat die grondslag van die Suid-Afrikaanse ekonomie sal herbou:
# Tennis: Die wêreld se nommer twee, Aryna Sabalenka, gaan aan die Miami Ope deelneem ten spyte van haar kêrel se dood. Die plaaslike polisie beskou die dood van die 42-jarige gewese yshokkiespeler van Belarus, Konstantin Koltsov, as selfdood. Hy het Sabalenka na die geleentheid in die Amerikaanse stad vergesel. Volgens berigte ondersteun ander spelers Sabalenka in hierdie moeilike tyd. Dit sluit Paula Badosa van Spanje in teen wie sy Vrydag in haar eerste wedstryd speel. Badosa, ʼn boesemvriendin van Sabalenka, erken dit gaan moeilik wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-134-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-153-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….