Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu vra die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor om die beweerde wangebruik van werkers se bydraes te ondersoek
# Helen Zille herhaal John Hlophe se aanstelling op die regterlike dienskommissie is ‘n botsing van belange
# En, rugby: Vier veranderings word aangebring aan die All Blacks se opdrafspan vir die toets teen die Bokke in Kaapstad
# Cosatu vra die Gedragsowerheid vir die Finansiële sektor om ondersoek in te stel na die beweerde verduistering van werkers se bydraes tot die Munisipale Werkers-pensioenfonds. Dit volg op mediaberigte oor ‘n romantiese verhouding tussen die hoofbeampte van die fonds, wyle Margaret le Grange, en die administrateur, die uitvoerende hoof van Akani, Zamani Letjane. Zanele Sabela van Cosatu sê die fonds het Akani Properties na bewering in 2018 333-miljoen-rand betaal om grond te koop:
# Die voorsitter van die DA se Federale Raad, Helen Zille, sê John Hlophe se aanstelling op die Regterlike Dienskommissie is ‘n botsing van belange. Volgens Zille is dit irrasioneel om ʼn regter wat weens growwe wangedrag afgedank is, op ʼn liggaam te laat dien wat verantwoordelik is vir regterlike aanstellings. Sy beklemtoon die behoefte daaraan om die onafhankliheid en integriteit van die Suid-Afrikaanse regbank te beskerm:
# Speurders in Brits in Noordwes vra hulp van die publiek met die uitken van 38 liggame in die dorp se Forensiese Patologie-lykshuis. Polisiewoordvoerder Amanda Funani het onthul die meeste van die liggame, hoofsaaklik mans, is tussen 2021 en vanjaar aangetref op verskillende plekke in en om die dorp. Sy doen ‘n beroep op inwoners om te help met die uitkenproses:
# Rugby: Die hoofafrigter van die All Blacks, Scott Robertson, het vier veranderings aangebring aan sy opdrafspan vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die Springbokke in Kaapstad. Will Jordan, Mark Tele’a en Sevu Reece is die nuwe agterste driehoek en Cortez Ratima begin op skrumskakel. Onder die voorspelers vervang Wallace Sititi die beseerde Ethan Blackadder as steelkantflank. Die ervare TJ Perenara en Beauden Barrett is onder die plaasvervangers. Robertson sê hulle sien uit om te speel in ‘n stad met ‘n ryk rugbygeskiedenis en sterk steun vir die All Blacks.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-716-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-515-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: SANParke het bevestig ses olifante het uit die Krugerwildtuin ontsnap, wat gelei het tot ‘n gesamentlike poging met Mpumalanga se Toerisme en Parke-agentskap om hulle te probeer terugkry. Die situasie het vererger toe gemeenskapslede die ontsnappingsroete versper het, wat dinge gevaarlik gemaak het. Spanne werk nog om die diere veilig terug te dryf. Die voorval volg op ‘n soortgelyke ontsnapping in Augustus 2022, wat klem plaas op die voortgesette uitdagings met die bestuur van olifantbewegings naby menslike nedersettings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….