Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse ekonomie groei met 0,4-persent in die tweede kwartaal
# Die president van die Reserwebank sê Suid-Afrika benodig volgehoue lae inflasie voor rentekoerse verlaag kan word
# En, tennis: Iga Swiatek seil deur na die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope
# Die Suid-Afrikaanse ekonomie het in die tweede kwartaal met 0,4-persent gegroei, na geen groei in die eerste kwartaal nie. Die finansies-, die eiendom- en die sakedienstebedryf het met 1,3-persent gegroei, gevolg deur die handel-, die gasvryheids- en die verblyf-sektor wat groei van 1,2-persent getoon het. Die vervaardigingsbedryf het met 1,1-persent verbeter, en die krag-, die gas- en die waterbedryf met 3,1-persent. Dit was grootliks te danke aan ‘n styging in kragverskaffing en -verbruik, asook waterverbruik. Die vervoer-, bergings- en kommunikasiebedryf asook landbou, bosbou en visserye het met meer as 2-persent gedaal.
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, beklemtoon die behoefte aan ‘n volgehoue lae inflasiekoers om ‘n verandering in monitêre beleid te regverdig. Die inflasiekoers van 4,6-persent in Julie, die laagste in drie jaar, het bespiegeling oor ‘n verlaging in rentekoerse laat opvlam. Kganyago waarsku egter hoewel laer inflasie positief is, wil die Reserwebank volgehoue lae inflasie hê voor hy rentekoerse sal verlaag. Die bank se sleutel-rentekoers is sedert Mei verlede jaar onveranderd op 8,25-persent.
# Die Activists and Citizens Forum sê die polisie het die stryd teen dwelmkartelle in die land verloor en dit word nou aan alle Suid-Afrikaners oorgelaat om die krisis hok te slaan. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, vra gemeenskappe om alles moontlik te doen en straatkomitees te vorm om toekomstige geslagte te beskerm:
# Die legendariese musiekververvaardiger, Chicco Twala, het klagtes van roof en diefstal teen sy seuns Sello en Longwe Twala by die Douglasdale-polisiestasie in Johannesburg gelê. Dit volg na die beweerde diefstal van ateljeetoerusting ter waarde van sowat 300-duisend-rand uit sy huis in Fourways, terwyl hy in Amerika was. Albei seuns is aangekeer en gaan in die Randburgse Landdroshof verskyn. Chicco het sy frustrasie uitgespreek en gee Longwe se dwelmverslawing as rede vir die voortdurende diefstal.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek, het maklik deurgedring na die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope toe sy Liudmila Samsonova in skoon stelle geklop het. Die 23-jarige Pool moes in die eerste stel hard werk teen die 16de-gekeurde Rus, maar die tweede stel oorheers om 6-4, 6-1 te wen. Swiatek mik nou na ‘n sesde Grand Slam-titel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-999-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-497-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….