Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# China rol die rooitapyt uit vir Afrika-leiers
# Cosatu vra die verhoging van polisie-salarisse
# En, rugby: Die Springbokke is skepties oor die Wallabies-stutte se beserings in Perth wat gelei het tot onbestrede skrums
# China het die rooitapyt uitgerol vir leiers van reg oor Afrika, en wil bande versterk met dié hulpbron-ryke vasteland. Beijing sê dié week se China-Afrika-forum sal sy grootste diplomatieke geleentheid sedert die Covid-19-pandemie wees, met tientalle leiers en afvaardigings wat verwag word. President Cyril Ramaphosa het vandag aangekom vir ‘n besoek van vier dae waartydens hy ook die suidelike tegnologie-stad Shenzhen sal besoek. Die twee lande sal ‘n aantal ooreenkomste onderteken wat gemik is op die versterking van ekonomiese samewerking en die instelling van tegniese ooreenkomste.
# Cosatu sê dis tyd dat polisie-salarisse ‘n hupstoot kry om die opofferings te weerspieël wat geregsdienaars daagliks maak om die land veiliger te maak en om hulle te beskerm teen goed-toegeruste misdadigers. Woordvoerder Zanele Sabela sê die vakverbond neem hande met toegewyde Popcru-lede en die hele Polisiediens met die herdenking van Polisie-veiligheidsmaand, en eer die opofferings van polisielede en hulle gesinne. Sabela sê die land is ewig dankbaar vir hulle dapper diens aan die mense:
# ‘n Onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, doen ‘n beroep op die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube om die afskaffing van onderwysposte deur provinsiale Onderwysdepartemente te keer. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gaan sowat twee-duisend-400 onderwysposte sny weens ‘n ernstige begrotingstekort van 3,8-miljard-rand. KwaZulu-Natal kan op die oomblik nie elf-duisend-en-92 van sy poste bekostig nie met ‘n begrotingstekort van vier-miljard-rand. Makaneta sê die besnoeiing van onderwysposte sal verreikende gevolge hê:
# Rugby: SA Rugby het Wêreldrugby gevra om ondersoek in te stel na die beserings aan twee Wallabies-stutte wat gelei het tot onbestrede skrums vir die grootste deel van die tweede helfte van hulle Rugby-kampioenskaptoets in Perth. Angus Bell het na rustyd nie teruggekeer nie weens ‘n kopbesering-beoordeling, terwyl James Slipper ook afgehaal is na ‘n stamp teen die kop – minute nadat die Bokke se Bomb Squad opgedraf het. Die Springbokke is volgens berigte skepties oor die geldigheid van die beserings wat een van die span se groot troefkaarte geneutraliseer het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-383-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-501-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte: Die Hollywood-sterre Brad Pitt en George Clooney is vier minute lank staande toegejuig op die Venesiese Rolprentfees waar hulle jongste fliek, Wolfs, vertoon is. In die fliek van skrywer en regisseur, Jon Watts, vertolk Pitt en Clooney die rolle van twee beredderaars wat verkies om alleen te werk, maar moet saamwerk nadat hulle vir dieselfde werk aangestel is. Hulle vertolk die eerste keer saam hoofrolle sedert die Coen-broers (Cohen) se swart komedie, Burn After Reading, van 2008. Pitt se eks, Angelina Jolie, se jongste fliek, Maria, het ook sy debuut op die fees gemaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….