Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra ‘n verslag aan van die minister van Justisie oor die VBS Bank-korrupsiebewerings
# Die Batebeslagleggingseenheid en die Spesiale Ondersoekeenheid kry ‘n bevel vir die beskerming van miljoene rand uit loterygeld
# En, krieket: Olly Stone word herroep om die beseerde Mark Wood in Engeland se span te vervang
# President Cyril Ramaphosa is besorg oor mediaberigte wat beweer die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, word by korrupsie betrek. Daar word beweer sy het op ‘n onbehoorlike wyse geld van VBS Mutual Bank ontvang tydens haar ampstermyn as burgemeester van die Polokwane-munisipaliteit in Limpopo. Ramaphosa het ‘n omvattende verslag en voorlegging van Simelane aangevra oor die bewerings.
# Die Batebeslagleggingseenheid en die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n bewaringsbevel van die Hooggeregshof bekom om bates ter waarde van ongeveer 6,5-miljoen-rand te beskerm wat verband hou met bedrieglike toelae-toewysings van die Nasionale Loteryekommissie. Die beskermde bates sluit in vier eiendomme en ‘n voertuig wat as gevolg van wanbesteding van Loteryekommissiefondse verkry is. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, sê hierdie optrede is deel van ‘n deurlopende ondersoek na die wanaanwending van toelaes wat bedoel was vir gemeenskapsontwikkeling:
# Die parlementêre portefeuljekomitee vir Kommunikasie en Digitale Tegnologieë vra verbeterde openbare befondsing vir die SABC om sy diensmandaat doeltreffend te verrig. Die openbare uitsaaier het vanjaar 2,1-miljard-rand se onbefondsde uitgawes, en die komitee waarsku oor ‘n bestaanskrisis vir die korporasie. Voorsitter Khusela Diko het teenoor die SABC die belangrikheid benadruk van openbare-privaat vennootskappe gedurende bespreking oor die SABC-wetsontwerp:
# Krieket: Olly Stone is die eerste keer in drie jaar opgeroep vir die Engelse span in die plek van Mark Wood, in die enigste verandering vir die tweede toets teen Sri Lanka. Wood is vir die res van die reeks nie beskikbaar nie nadat hy sy bobeen beseer het gedurende Engeland se oorwinning van vyf paaltjies in die eerste toets op Old Trafford. Engeland blaas nuwe lewe in hulle snelaanval na die uittrede van die veterane Stuart Broad en James Anderson. Die tweede toets in die reeks van drie begin môre op Lord’s.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-898-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-506-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-59-sent per vat.
# En ten slotte: Australië het die Wet op die Reg om te Ontkoppel uitgevaardig, wat werkers magtig om na ure nie-noodsaaklike oproepe en e-posse te ignoreer. Werkgewers kan met tot 1,1-miljoen-rand beboet word indien hulle die nuwe reëls verbreek. Volgens eerste minister Anthony Albanese sal hierdie wet produktiwiteit en geestesgesondheid verbeter. Hy voer aan werknemers word nie vir 24-uur per dag betaal nie en hoef dus nie elke dag 24-uur aan diens te wees nie. Die wet stem ooreen met soortgelyke wetgewing in Frankryk, Spanje en België.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….