Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ouditeur-Generaal sê slegs 13-persent van alle munisipaliteite behaal skoon oudits
# Nersa ontvang Eskom se multi-jaar prysbepaling-inkomste-aansoek
# En, rugby: Jasper Wiese is terug en die Bokke maak nege veranderings vir die All Blacks-kragmeting
# Die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, het aangekondig slegs 13-persent van munisipaliteite het skoon oudits in die 2022/’23-boekjaar ontvang. Van die 257 munisipaliteite het slegs 34 aan die vereiste standaarde vir finansiële bestuur voldoen. Maluleke het aan die Parlement se portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Aangeleenthede gesê, ondanks talle ingrypings, sukkel die meeste plaaslike owerhede met deursigtigheid, voldoening en doeltreffende dienslewering:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het Eskom se sesde inkomste-aansoek vir sy multi-jaar prysbepaling ontvang vir die volgende drie boekjare. Die kragnutsmaatskappy beoog ‘n gemiddelde tariefverhoging van 36-persent per jaar. Nersa se woordvoerder, Charles Hlebela, sê Eskom se aansoek sal verwerk word volgens alle vereiste prosesse, wat die bepaling van regulatoriese voldoening insluit:
# Die V&A Waterkant in Kaapstad het sy erfenis-beoordeling begin as deel van sy opgradering van 20-miljard-rand wat na verwagting oor die volgende 15 tot 20 jaar in fases sal plaasvind. Die beoordeling ingevolge die Nasionale Wet op Erfenisbronne fokus op die perseel se geskiedkundige betekenis – van sy oorsprong as werkende hawe tot belangrike toeristebestemming. Woordvoerder Donald Kau sê die droom is om die perseel eerstens te vestig as ‘n woongebied, maar ook as ʼn ontwikkeling vir gemengde gebruik. Openbare toegang tot die waterkant sal ook weer bewerkstellig word.
# Rugby: Jasper Wiese maak sy eerste verskyning van die seisoen nadat die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, die snoeiskêr ingelê het vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks op Ellispark in Johannesburg. Daar is nege veranderings aan die span wat die Wallabies in Perth verslaan het, maar slegs drie aan die wedstrydgroep wat die reeks teen die Aussies begin het. Wiese is terug na ‘n skorsing terwyl Pieter-Steph du Toit en Ruan Nortjé die slotpaar vorm omdat ses ander slotte beseer is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-361-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-508-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-84-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die Grammy-bekroonde sangeres, liedjieskrywer en vervaardiger, Mariah Carey, het aangekondig haar ma, Patricia, en haar suster, Alison, is die naweek op dieselfde dag dood. Die 55-jarige het haar diepe hartseer uitgespreek en gesê sy is dankbaar dat sy haar ma se laaste week saam met haar deurgebring het. Besonderhede oor die oorsake van hulle dood is nog onbekend. Patricia was ‘n voormalige operasangeres en stem-afrigter. Carey se ingewikkelde verhoudings met haar ma en suster is gedokumenteer in haar memoir van 202, The Meaning of Mariah Carey.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….