Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA in Gauteng sê korrupsie floreer steeds in die Gesondheidsdepartement drie jaar na Babita Deokaran se moord
# ‘n Soektog is aan die gang na vasgekeerde onwettige mynwerkers in Rustenburg
# En, minister McKenzie beloof 67-miljoen-rand vir minderheidsport
# Die DA in Gauteng sê dit is vandag drie jaar na die sluipmoord op Babita Deokaran, maar die baasbrein wat opdrag gegee het vir die moord is steeds nie opgespoor nie en die ongebreidelde korrupsie wat sy in die provinsiale Gesondheidsdepartement probeer stop het, gaan steeds voort. Jack Bloom van die DA sê hoewel ses mans vir Deokaran se moord tronk toe gestuur is, lyk dit asof bitter min gedoen word om die baasbrein te vind in ‘n ondersoek wat ondermyn word deur onbevoegdheid:
# ‘n Soektog is aan die gang na twee vermeende onwettige mynwerkers wat ondergronds vasgekeer is na ‘n rotsstorting naby Rustenburg in Noordwes, terwyl inwoners en familielede angstig wag op nuus. Inwoners sê die voorval illustreer die voortgesette kwessie van onwettige mynbou in die gebied, en vra die regering om op te tree. Owerhede benadruk onwettige mynbou is ‘n oortreding van landswette en dra by tot ekonomiese misdaad, insluitend onwettige kontantvloei, en geweld.
# ‘n Namibiese man is 15-jaar tronkstraf opgelê omdat hy bykans tien-jaar gelede die dood van ses mense veroorsaak het in ‘n grusame botsing. Jandré Dippenaar het in Junie die eerste persoon in die land geword wat na ‘n motorongeluk aan moord skuldig bevind is. Die Streekhof in Swakopmund het ook bevind hy het nie ‘n geldige rybewys gehad toe hy in Desember 2014 voertuie op ‘n blinde hoogte naby Hentiesbaai verbygesteek en reg van voor teen ‘n aankomende voertuig gebots het nie. Slegs Dippenaar en nog ‘n insittende het oorleef.
# Nou sportnuus: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het 67-miljoen-rand se toerusting beloof vir minderheidsportsoorte ter wille van transformasie, ontwikkeling en die uitwissing van ongelykhede. Hy het in ‘n vergadering met adjunkpresident Paul Mashatile maatskaplike kohesie en nasiebou bespreek. McKenzie beklemtoon ook die belangrikheid van die bestryding van geslagsgeweld in sport, met behulp van ‘n aanmeld-blitslynnommer:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-56-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-497-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-79-sent per vat.
# En ten slotte Die Departement van Basiese Onderwys gedenk die lewe van die wiskunde- en wetenskap-onderwyser wat bekend was vir sy klasse op televisie, William Smith, wat Woensdag in die ouderdom van 85 oorlede is. Minister Siviwe Gwarube sê die departement betreur sy dood en loof hom vir sy vernuwende manier van klasgee. Volgens Gwarube het hy beslis ‘n aansienlike bydrae gelewer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….