Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet herbevestig sy toewyding aan misdaadvoorkoming en ekonomiese bestendigheid
# Mpumalanga se Onderwysdepartement skors ‘n onderwyser wat ‘n leerder se vlegsels op ‘n video gewelddadig afsny
# En, krieket: Lucknow wil Zaheer Khan hê in mentorskaprol
# Die kabinet het sy toewyding herbevestig tot die versterking van misdaadvoorkoming en die versekering van ekonomiese bestendigheid. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê na ‘n onlangse vergadering die regering fokus op die pak van die hoë misdaadkoers, veral afpersing in die Oos-Kaap, en om wetstoepassingsagentskappe in hulle pogings te steun. Ntshavheni sê die kabinet het ook maatreëls bespreek om die ekonomie bestendig te maak en sake soos inflasie en werkloosheid te pak:
# Die Onderwysdepartement in Mpumalanga veroordeel ‘n onderwyser van die Hoërskool LD Moetanalo wat op video ‘n leerder se vlegsels met geweld afsny. Die video is wyd versprei en die onderwyser is onmiddellik geskors. ‘n Ondersoek sal die omstandighede van die voorval bepaal. Die departement se woordvoerder, Gerald Sambo, beklemtoon onderwysers moet etiese kodes en menseregte eerbiedig, en sê die betrokke leerders sal sielkundige berading ontvang:
# Die polisie sê sy Tshwane Opleidings-akademie het dienste hervat en polisie-studente is vandag weer in die klas. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê meer as twee-duisend-500 polisiestudente is gister ontruim na ‘n gaspypleiding-ontploffing by ‘n sakeperseel naby die akademie.
# Die Italiaanse kuswag het die liggame van vyf mense uitgeken wat gevind is in die wrak van die luukse seiljag wat Maandag aan die kus van Sicilië vergaan het. Vyftien van die 22 mense op die Bayesian is gered. Die Britse tegnologie-magnaat, Mike Lynch, is onder die slagoffers, asook die voorsitter van Morgan Stanley International, Jonathan Bloomer, sy vrou, Judith, die regsgeleerde Christopher Morvillo en sy vrou, Neda. Die liggaam van die seiljag se sjef, Recaldo Thomas, is Maandag gekry. Lynch se 18-jarige dogter, Hannah, word steeds vermis.
# Krieket: Een van Indië se eertydse grotes, Zaheer Khan, voer gesprekke met die Indiese Premierligaspan, Lucknow Super Giants, oor ‘n moontlike rol as mentor. Dit volg na die vertrek van Gautam Gambhir wat nou die hoofafrigter van die nasionale span is. Die 45-jarige Khan het in 92 toetse en 200 eendagwedstryde vir Indië gespeel en meer as twee-duisend lopies aangeteken en altesaam 593 paaltjies laat kantel. Hy was tot onlangs die hoof van globale ontwikkeling by Mumbai Indians en ook vir vier jaar die direkteur van krieket vir die span.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-961-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-506-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….