Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mogoeng ontken enige beïnvloeding van Zondo se aanstelling as voorsitter van die staatskapingskommissie
# Cosatu is gretig om die Gesondheidsooreenkoms te onderteken
# En, tennis: Jannik Sinner versterk sy voorste posisie in die ATP-wedloop na Turyn met sy oorwinning in Cincinnati
# Die afgetrede hoofregter, Mogoeng Mogoeng, ontken aansprake dat hy ‘n rol gespeel het in die bevordering van sy opvolger, Raymond Zondo, se aanstelling as voorsitter van die staatskapingskommissie. Mogoeng het op Zondo se afskeidsdinee beklemtoon sy aanstelling was nie ‘n guns nie. Hy sê Zondo het sy posisies verdien deur harde werk en op meriete:
# Cosatu sê hy is verheug om een van die partye te wees wat môre die Presidensiële Gesondheidsooreenkoms by die Uniegebou in Pretoria onderteken. President Cyril Ramaphosa sal toesig hou oor die geleentheid nadat dit vroeër uitgestel is. Matthew Parks van Cosatu sê die ooreenkoms, wat Ramaphosa in 2019 beplan het, is ‘n raamwerk vir samewerking tussen belanghebbers met ‘n kritieke invloed op goeie gesondheids-uitkomste in die land:
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, loof grenswagte by die Lebombo-toegangspunt by Mosambiek vir die inhegtenisneming van ‘n verdagte met 34 paspoorte. Tydens die operasie is 32 paspoorte wat aan Mosambiekse burgers behoort en twee van Angolese burgers opgespoor. Masiapato onderstreep die belangrikheid van die owerheid se rol in die bestryding van onwettige bedrywighede en die behoud van grenssekerheid.
# Montana is die agste Amerikaanse staat wat aborsieregte op die November-stembrief voeg sodat kiesers self kan besluit of hulle ‘n grondwetlike verandering steun om toegang tot die prosedure te beskerm. Vir Demokrate is aborsieregte ‘n sleutelkwessie in die verkiesing sedert die landwye reg tot die prosedure in 2022 deur die grootliks konserwatiewe Amerikaanse Hooggeregshof geskrap is. Die plan sal die regering verhinder om pasiënte te straf, asook gesondheidsorgwerkers of enigeen wat hulp verleen aan persone wat hulle reg uitoefen om besluite oor hulle swangerskap te neem of uit te voer.
# Tennis: Jannik Sinner van Italië het sy posisie bo die Spanjaard Carlos Alcaraz in die ATP-wedloop na Turyn versterk tot een-duisend-440-punte nadat hy die Cincinnati-Ope gewen het. Net die top-agt spelers op die lys sal deelneem aan die mans-jaareindtoernooi in Italië. Alexander Zverev van Duitsland is tans derde, gevolg deur die Rus Daniil Medvedev, Casper Ruud van Noorweë en nog ‘n Rus, Andrey Rublev. Novak Djokovic van Serwië is sewende op die lys en die Australiër Alex de Minaur agtste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-347-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-505-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….