Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF se adjunkpresident, Floyd Shivambu, kondig sy bedanking aan en sluit by Zuma se MK-party aan
# Die staat trek die saak teen 95 Libiese burgers amptelik terug
# En, rugby: Joe Schmidt maak verskeie veranderings aan die Wallabies se span vir die toets teen die Bokke in Perth
# Die adjunkpresident van die EFF, Floyd Shivambu, het gevra om onthef te word van al sy pligte in die party en die Parlement. Dit volg op sy bedanking na bewerings wat hom en party-leier Julius Malema betrek by die VBS-bankskandaal. Die bank se voormalige voorsitter, Tshifhiwa Matodzi, het in ‘n beëdigde verklaring beweer Shivambu en Malema het meer as 16-miljoen-rand ontvang deur middel van ‘n frontmaatskappy wat met Shivambu se broer verbind word.
Shivambo het op ‘n nuuskonferensie bevestig hy gaan by oudpresident Jacob Zuma se MK-party aansluit.
# Die saak teen 95 Libiese burgers is amptelik teruggetrek in die Landdroshof in Witrivier, Mpumalanga. Die Libiërs is verlede maand by ‘n militêre opleidingskamp in hegtenis geneem. Hulle sal aan die Departement van Binnelandse Sake oorhandig word vir deportasie. Die groep is daarvan aangekla dat hulle Suid-Afrika binnegekom het met visums wat deur wanvoorstelling bekom is. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Monica Nyuswa, sê alle aanklagte is laat vaar:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het 570-miljoen-rand aan die Tesourie teruggestuur nadat hy 1,1-miljard-rand vir 2023/24 onderbestee het. Volgens die provinsiale hoof van Gesondheid, Arnold Malotana, het die departement toestemming om 530-miljoen-rand na die huidige boekjaar oor te dra. Hy het tydens ‘n vergadering van die wetgewer ook bekendgemaak 3,45-miljard-rand is aan verskaffers verskuldig. ‘n Woordvoerder van die DA, Jack Bloom, sê die onderbesteding gaan pasiënte erg benadeel:
# Klimaatsaktiviste het vandag op vier Duitse lughawes betoog en hulle aan die teerblaaie vasgegom. Dit het lugverkeer vir ‘n rukkie tot stilstand gebring by twee lughawens, voor hulle aangekeer is. Die aktivistegroep Last Generation sê sy lede het op die lughawens Keulen-Bonn, Neurenberg, Berlyn en Stuttgart baniere omhoog gehou wat sê “Olie maak dood”. Al agt aktiviste betrokke by die betogings is in hegtenis geneem. Last Generation is bekend vir sy aandagtrekkende betogings soos die gooi van kapokaartappels na skilderye in museums en om hulleself op besige paaie vas te gom.
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het verskeie veranderings aan sy span aangebring vir die tweede Rugbykampioenskaps-toets teen die Springbokke in Perth. Twee ou aartsvyande van Suid-Afrika, Marike Koroibete en Nick White, is terug om die span te versterk wat in die eerste toets in Brisbane 33-7 teen die wêreldkampioen vasgeval het. Schmidt glo blykbaar hulle ervaring sal Australië help teen die aantal nuwelinge in die Springbok-groep. Die loskopstut Angus Bell keer ook terug en die haker Josh Nasser is die eerste keer in die opdrafspan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-374-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-459-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….