Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tatjana Smith praat oor haar sukses en doen ‘n beroep vir groter steun vir sport
# ActionSA verwelkom die Johannesburgse burgemeester se bedanking
# En, BetterBond sê daar moet eers ‘n besliste styging in nuwe eiendomsontwikkeling wees
# Ons begin met Olimpiese nuus: Die viermalige medaljewenner Tatjana Smith sê sy voel nederig en trots nadat sy die goue medalje in die 100-meter borsslag en silwer in die 200-meter in Parys losgeswem het. Dit het gevolg op haar twee medaljes in Tokio. Smith het met haar aankoms op die OR Tambo Internasionale Lughawe gesê sy bly daartoe verbind om ander Suid-Afrikaanse atlete te ondersteun. Sy het onderneem om haar steeds vir die verbetering van die sportlandskap in Suid-Afrika te beywer, ondanks haar uittrede:
# ActionSA in Johannesburg verwelkom die bedanking van Kabelo Gwamanda as burgemeester van die metro. Woordvoerder Nobuhle Mthembu sê die party se ingryping het bygedra tot Gwamanda se besluit. Sy voeg by inwoners het swaargekry onder ‘n burgemeester wie se onbevoegdheid en herhaaldelike verskuiwing van skuld gelei het tot ‘n betreurenswaardige situasie ten opsigte van dienslewering in die stad:
# BetterBond sê daar moet eers ‘n besliste styging in nuwe eiendomsontwikkeling wees ter voorbereiding van ‘n behuisingstekort voor rentekoerse begin daal en bedrywighede in die eiendomsmark toeneem. Die hoof van verkope, Bradd Bendall, sê die jaar-tot-jaar-toename in die gemiddelde huisaankoopprys vir alle kopers was verlede maand 7,5-persent, aansienlik hoёr as die huidige inflasiekoers van 5,1-persent:
# Die omgewingsorganisasie sonder winsbejag, Ecodefence, voer ‘n bewusmakingsveldtog teen die gevare van kern-energie in Suid-Afrika. Die Nasionale Kernreguleerder het onlangs die bedryfstydperk van Eenheid Een van Eskom se Koeberg-kernaanleg met nog 20 jaar verleng, ten spyte van kommer oor veiligheid. Die bekroonde Russiese omgewingsbewaarder, Vladimir Slivyak van Ecodefence, sê kernenergie is gevaarlik en duur en sal nie bydra om die klimaat te red nie. Hy is gekant teen die verlenging van kernreaktors se bedryf omdat die gevaar van ongelukke met ouderdom toeneem.
# Die Afrika-sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming wil A-pokke tot gesondheidsnoodsituasie op die vasteland verklaar. Die uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo – die ergste wat nog ooit aangeteken is – het na nóg vier lande versprei. Meer as 14-duisend gevalle is in die gebied aangemeld, waarvan die meeste onder kinders. Honderde mense is reeds dood. Die direkteur-generaal van die sentrum, Jean Kaseya, sê hulle het dringend tien-miljoen dosisse entstof nodig, maar die koste van meer as duisend rand per dosis is ‘n struikelblok.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-804-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-461-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….