Nuus 14:00
BULLETIN 6 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse rand is bestendig terwyl markte wag vir tekens van ‘n ooreenkoms
# Moeilike boerdery-toestande verswak die sitrusuitvoer-vooruitsigte
# En rugby: Hoë pryse vir Bok-ondersteunertruie vir die All Blacks-toer
# Die Suid-Afrikaanse rand was bestendig teenoor die Amerikaanse dollar tydens vroeë verhandeling terwyl beleggers die ontwikkelings in die Midde-Ooste fyn dophou. ‘n Swakker dollar en laer oliepryse ondersteun die plaaslike geldeenheid, terwyl hoop op vordering met ‘n vredesooreenkoms tussen Amerika en Iran vertroue in die mark versterk. Handelaars wag ook op belangrike Amerikaanse data later hierdie week vir leidrade oor die rigting van rentekoerse. Suid-Afrika se skuldmark het effens verstewig nadat opbrengste in vroeë verhandeling gedaal het.
Die vakverbond Cosatu is intusen bekommerd oor die uitwerking van die verdere dieselprys-verhoging en sê dis ‘n gevoelige slag wat miljoene sukkelende werkers en pendelaars nie kan bekostig nie. Dieselpryse het met tot een-rand-38-sent per liter gestyg. Woordvoerder Matthew Parks sê die regering se vroeëre tydelike opheffing van brandstofheffing was ‘n groot verligting, maar hulle vrees werkers, die gemeenskap en die ekonomie sal nie aanhoudende dieselprysstygings kan hanteer nie:
# Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika het sy uitvoervoorspelling vir sy 15-kilogram-kartonne vir vanjaar van 209,4-miljoen tot 205,3-miljoen verlaag. Die bedryf sê oorstromings, stygende insetkoste en konflik in die Midde-Ooste het produksie, verskeping en belangrike uitvoermarkte ontwrig. Vertragings op Durban se hawe het verdere druk geplaas gedurende die spits-uitvoerperiode. Ondanks uitdagings word verwag dat suurlemoen-uitvoere aanvanklike ramings sal oorskry, terwyl lemoen-, pomelo- en mandaryn-voorspellings afwaarts hersien is.
# COPE het president Cyril Ramaphosa weer gevra om die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, af te dank. Drushanta Ramsamy van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie het aan die Madlanga-kommissie gesê Mchunu het ‘n getuie na die Oos-Kaap gevlieg om getuienis aan hoofondersoeker Dylan Perumal te lewer in verband met ‘n beweerde tenderverkrygings-onreëlmatigheid binne Misdaadintelligensie. COPE se voorsitter, Pakes Dikgetsi, sê dit toon dat Mchunu by die direktoraat se ondersoek ingemeng het:
# Rugby: Die spesiale Springbok-ondersteunerstrui vir Rugby’s Greatest Rivalry teen die All Blacks begin met ‘n stewige prys van 999-rand. Daar sal ook ‘n stadionweergawe wees wat tussen een-duisend-400-rand en een-duisend-500-rand sal kos. SA Rugby het aangekondig die truie sal van vandag af aan die publiek beskikbaar wees. Die unie het vroeër erken hulle sukkel om kaartjies te verkoop vir die All Blacks se wedstryde teen die vier Suid-Afrikaanse Verenigde Rugbykampioenskap-spanne, waarskynlik weens hoë pryse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-605-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-267-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 83-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….