Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# PSiRA se uitvoerende hoof sê die militêre kamp in Mpumalanga was onwettig
# Hamas stel die baasbrein agter die 7 Oktober-aanvalle aan as sy nuwe hoof
# En Olimpiese Spele: Wayde van Niekerk gaan probeer om sy eerste eindronde te haal sedert Rio in 2016
# Die uitvoerende hoof van die Reguleringsowerheid vir die Privaat Sekerheidsbedryf, Manabela Chauke, sê die kamp in Witrivier, Mpumalanga, waar 95 burgers van Libië opgelei is, was nie geakkrediteer vir die verskaffing van militêre opleiding nie. Chauke het die jongste inligting gegee oor die opleiding wat aangebied is deur die Milites Dei-sekerheidsdienste. Hy sê die reguleerder het die diensverskaffer geskors:
# Die uitvoerende hoof van die Boubedryf se Onderwys- en Opleidingsowerheid, Malusi Shezi, is geskors te midde van ‘n ondersoek na wangedrag en inmenging. Hy word verdink van korrupsie, inmenging by verkryging, verkwistende besteding en die kaping van die raad. Een van die bewerings is dat Shezi betrokke was by die aanstelling van ‘n diensverskaffer met ‘n kontrak van 35-miljoen-rand, blykbaar sonder die betrokkenheid van voorsieningskanaalbestuur. Hy is ook gekritiseer oor ‘n oorsese reis van vier-miljoen-rand vir agt raadslede van die CETA.
# Hamas het die baasbrein agter die 7 Oktober-aanvalle op Israel, Yahya Sinwar, as nuwe leier aangestel na die dood van Ismail Haniyeh in ‘n beweerde Israelse aanval in Irak verlede week. Dit word volgens berigte beskou as bevestiging van Hamas se voortgesette kragdadige standpunt te midde van voortslepende konflik. Hy is in 2011 na 23-jaar vrygelaat uit ‘n Israelse tronk en is bekend vir sy rol in die opsporing en teregstelling van Palestyne wat verdink is van samewerking met Israel. Die stap kan glo moontlik die streekskonflik verder vererger.
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse wêreldrekordhouer oor 400 meter, Wayde van Niekerk, neem vanaand in Parys aan die halfeindronde van die 200-meter deel. Van Niekerk het met 20,42-sekondes derde geëindig in sy uitdun en outomaties deurgedring na die halfeindronde. Die 32-jarige gaan probeer om sy eerste Olimpiese eindronde te bereik sedert sy nuwe wêreldrekord in Rio in 2016. Van Niekerk besef hy moet op sy tyd verbeter:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-464-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-396-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte: Altron het die dood aangekondig van ‘n lid van ‘n bekende sake-familie en voormalige uitvoerende hoof, Robbie Venter. Hy was 64. Volgens News24 het die seun van die veteraan-sakeman Bill Venter, ‘n gerespekteerde figuur onder Suid-Afrikaanse sakelui, Altron van 2001 tot 2017 gelei en ‘n onuitwisbare uitwerking gehad op die tegnologiebedryf. Venter word ook erken vir sy vroeë tennisloopbaan en sy aansienlike bydrae tot die sakewêreld. Altron sê sy dood is ‘n groot verlies en hy sal onthou word vir sy leierskap en toewyding.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….