Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma se privaat vervolging van Ramaphosa is tot 6 Februarie volgende jaar uitgestel
# Nelson Mandelabaai se burgemeester bespreek die begroting vir kringtelevisie met die Tesourie te midde van meer ontvoerings
# En, rugby: Sacha Feinberg-Mngomezulu en Elrigh Louw begin die eerste keer vir die Springbokke
# Oudpresident Jacob Zuma se privaat vervolging van president Cyril Ramaphosa is tot 6 Februarie volgende jaar uitgestel. Zuma het in die Hooggeregshof in Johannesburg verskyn om sy saak aktief te hou. Hy beskuldig Ramaphosa dat hy aandadig was na die uitlek van mediese rekords tydens sy wapenskandaalverhoor, wat die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag oortree het. Zuma se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, het aan die hof gesê die nuwe datum laat verdere regsprosesse en gesprekke toe:
# Die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk, het die Nasionale Tesourie versoek om begrotingsmoontlikhede vir die installering van kringtelevisie te bespreek om die toename in ontvoerings te beperk. Daar was vanjaar in die metro minstens tien ontvoerings van sake-eienaars of hulle vrouens. Van Niekerk is van mening die afwesigheid van kringtelevisie het bygedra tot die toename in ontvoerings en gaan befondsing aanvra om die kwessie aan te pak.
# Die Suid-Afrikaanse Sioniste-federasie sê hy veroordeel die Suid-Afrikaanse regering se ondersteuning van Iran en terroristegroepe namate spanning in die Midde-Ooste oplaai. Volgens die federasie weerspreek die regering se onlangse stilte en ondersteuning van wat hulle beskou as skurkstate, insluitend Iran en Hezbollah, etiese standaarde en bedreig ekonomiese bande met Amerika en Europa. Woordvoerder Rolene Marks vra ‘n verskuiwing na ‘n gebalanseerde buitelandse beleid wat Israel se reg tot selfverdediging onderskryf en die vreedsame oplossing van konflik najaag:
# Rugby: Sacha Feinberg-Mngomezulu en Elrigh Louw begin die eerste keer ‘n toets vir Suid-Afrika in Saterdag se Rugbykampioenskaps-openingswedstryd teen die Wallabies in Brisbane. Die Springbokke het grootliks teruggeval op die groep wat verlede maand die toetsreeks teen Ierland gedeel het, met die insluiting van die Wêreldbeker-wenner-skrumskakel Cobus Reinach en die veelsydige plaasvervanger-voorspeler, Ben-Jason Dixon. Die 22-jarige Feinberg-Mngomezulu begin op losskakel en Louw op nommer agt. Skrumskakel Grant Williams verwag ‘n moeilike wedstryd teen Australië, wat tans goed op dreef is:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-118-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-413-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-42-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Suid-Afrikaanse kletsrymer wat tans in Los Angeles woon, Nomoya Refiloe Dube, maak hierdie maand haar groot debuut in die MHL en The Fugees-toer. Die toer sluit Lauryn Hill, YG Marley, The Fugees en D.I.O. in. Dit begin Vrydag in Florida en sluit af in Parys, Londen en Amsterdam. Die kletsrymer van Mpumalanga wat as MOYA bekendstaan, maak gereed om haar eerste enkelsnit, Big Boy Gun, vry te stel. Sy sê haar klank is baie veelsydig, meer Karibies, maar klink ook soos country en hip-hop met ʼn bietjie reggae.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….