Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Petrol- en dieselpryse daal Woensdag
# Die ANC dring aan op bestendige plaaslike regering te midde van toenemende kieserskommer
# En, rugby: Dis vroeg uit die vere vir Springbok-ondersteuners Saterdag
# Petrol- en dieselpryse daal Woensdag. Loodvrye petrol 93-oktaan en 95-oktaan word met 15-sent per liter verlaag, terwyl diesel tussen 17- en 28-sent goedkoper sal wees. Lampolie se prys val met 22-sent. Die prysverlagings bring die petrolprys te staan op 23-rand-elf-sent per liter in Gauteng en 22-rand-32-sent per liter aan die kus, met dieselpryse wat ook op hulle laagste vlak sedert Januarie is. ‘n Sterker rand beïnvloed die aanpassings, ondanks ‘n effense verhoging in Brent-ruoliepryse.
# Die ANC vra hernude fokus op die bestendiging van plaaslike regering terwyl kieserskommer toeneem, met nasionale en plaaslike kwessies wat oorvleuel. Die party merk op burgers beskou nasionale en plaaslike regering as verbind, veral as dit kom by die aanpak van probleme soos sanitasie en water. Die waarnemende woordvoerder, Zuko Godlimpi, het op ‘n nuuskonferensie oor die nasionale uitvoerende komitee se lekgotla in Boksburg gesê die doel is om doeltreffende plaaslike regeringsbestuur te verseker en openbare dienste te verbeter:
# Australië het sy terrorismebedreigingsvlak opgeskuif na “waarskynlik”, met die land se top-intelligensie-amptenaar wat sê daar is plaaslik ‘n toename in ekstreme ideologieë. Intelligensiehoof Mike Burgess sê daar is geen aanduiding ‘n aanval is op hande nie, maar die bedreiging vir die volgende twaalf maande het toegeneem. Hy het aan verslaggewers gesê Australië se sekerheidsomgewing gaan agteruit, en is meer plofbaar en minder voorspelbaar. Volgens Burgess is polities-gemotiveerde geweld, spioenasie en buitelandse inmenging nou hulle belangrikste sekerheidsbekommernisse.
# Rugby: Springbok-ondersteuners sal nie Saterdag kan laat slaap nie omdat die Rugby-kampioenskaptoets teen die Wallabies in Brisbane net na half-sewe die oggend afskop. Hoofafrigter Rassie Erasmus sal waarskynlik môre sy sterkste moontlike span kies omdat Suid-Afrika die afgelope paar jaar nie goed gevaar het in Australië nie, al het die Wallabies teruggesak na negende op die wêreldranglys, terwyl die wêreldkampioen steeds eerste is. Die Bokke het net een van hulle afgelope nege toetse in Australië gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-201-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-414-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-57-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nuwe vyf-ster-graderingstelsel vir mense met gestremdhede is in Mosselbaai bekendgestel. Dit staan bekend as Gestremdheidstoeganklikheid Mosselbaai en wil mense met gestremdhede se toegang tot ondernemings bepaal. Die stelsel is geskep deur en vir individue met gestremdhede. Die stelsel wil restaurante, verblyf en kleinhandelaars evalueer om toeganklikheid te verbeter vir mense in rolstoele, dowes of blindes, en mense met neurologiese toestande soos outisme. Burgemeester Dirk Kotzé sê die projek wil inklusiwiteit verbeter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….