Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kommissaris van Korrektiewe Dienste is uiters besorg oor smokkelary in tronke
# Die Werkloosheidsversekeringsfonds doen stappe om lang toue in dienssentrums uit te skakel
# En, Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse swemmer Rebecca Meder skraap deur na die halfeindronde, maar Chad le Clos val uit
# Die kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, is na ‘n klopjag in Durban Westville besorg oor smokkelary in tronke. Beamptes het beslag gelê op selfone, geld en dwelms, insluitend dagga en heroïen. Dit volg op soortgelyke onlangse klopjagte in Kaapstad en Johannesburg. Die kommissaris onderneem om uit te vind hoe gevangenes hierdie items kon bekom en waarsku bewaarders wat betrokke is, kan afgedank word:
# SA Suikerrietkwekers is teleurgesteld oor die appèlaansoek van Tongaat Hulett teen die uitspraak van die Hooggeregshof in Durban. Volgens die uitspraak moes die maatskappy, wat in Oktober 2022 in sakeredding geplaas is, 526-mijoen-rand in statutêre heffings aan die vereniging betaal. Tongaat en die sakereddingpraktisyns het in die Appèlhof aansoek gedoen om verlofo tot appél, en moet die aansoek binne ‘n maand indien. SA Suikerrietkwekers sê die agterstallige betaling van hierdie verpligtings bedreig die lewensbestaan van baie mense in die suikerbedryf.
# Die Werkloosheidsversekeringsfonds sê hy het reeds verskeie stappe gedoen om lang toue by dienspunte uit te skakel. Dit sluit in die instelling van ‘n gratis diensplatform, oftewel USSD, en ‘n data-vrye selfoon-toepassing wat gebruik kan word om toegang tot dienste van enige plek af te kry. Die fonds se woordvoerder, Trevor Hattingh, sê bestuurders is besig met inspeksies by plaaslike dienspunte en skakel met klante:
# Olimpiese Spele: Rebecca Meder van Suid-Afrika is net-net deur na die halfeindronde van die 200-meter individuele wisselslag. Sy het vierde geëindig in haar uitdun, maar in die 16de vinnigste tyd klaargemaak. Die 16 vinnigste swemmers in die vyf uitdunne het vir die voorlaaste ronde gekwalifiseer wat net na nege vanaand plaasvind. Die eindronde is môreaand. Die Kanadese tiener Summer McIntosh het die vinnigste tyd opgestel. Sy het reeds goue medaljes verower in die 200-meter vlinderslag en die 400-meter individuele wisselslag.
Chad le Clos van Suid-Afrika kon intussen nie vir die halfeindronde van die 100-meter vlinderslag kwalifiseer nie. Die silwermedaljewenner in Londen in 2012 en Rio in 2016 het tweede gekom in sy uitdun, maar kon slegs die 24ste vinnigste tyd behaal terwyl net die 16 vinnigste kwalifiseerders deurdring. Sy landgenoot, Matthew Sates, het ook uitgeval nadat hy vroeër ook nie na die halfeindronde van die 200-meter vlinderslag kon deurdring nie. Le Clos het nie deelgeneem aan dié item wat hy in Londen gewen het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-354-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-462-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….