Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# ‘n Lasbrief is uitgereik vir ‘n beskuldigde in die Thabo Bester-saak
# Die minister van Polisie herhaal planne om vuurwapenbeheermaatreëls te verskerp
# En, rugby: Rassie Erasmus glo Sacha Feinberg-Mngomezulu is toekomstige Bokkaptein-materiaal
# Die Hooggeregshof in Bloemfontein het ‘n lasbrief uitgereik vir die inhegtenisneming van beskuldigde nommer vier in die Thabo Bester-tronkontsnappingsaak. Die voorverhoor is vandag hervat, na ‘n vorige uitstel om van die beskuldigdes toe te laat om nuwe regsverteenwoordiging te kry. Die adjunkregterpresident, Cagney Musi, sê die verhoor is geskeduleer vir 10 Februarie volgende jaar en sal tot die einde van die termyn voorduur:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het herhaal dat vuurwapenbeheermaatreëls hersien en verskerp gaan word om die toenemende gebruik van ongelisensieerde en gesteelde vuurwapens te stop. Mchunu het beklemtoon dat meer gedoen gaan word om onwettige vuurwapens uit die gemeenskap te verwyder en strenger beheermaatreëls in te stel. Hy sê sy ministerie is gereed om met gemeenskappe hande te vat om met onwettige vuurwapens weg te doen:
# Die Afrika-sentrum vir Migrasie en Gemeenskap aan Wits vra dringende hervormings in dienslewering nadat Suid-Afrika se bevolking tot meer as 63-miljoen toegeneem het. Volgens Statistieke Suid-Afrika se jongste verslag het die bevolking sedert Julie verlede jaar met 836-duisend gestyg. Professor Loren Landau sê dit is kritiek noodsaaklik om praktiese planne te maak vir die uitdagings rakende werkloosheid en armoede. Sy beklemtoon dat dit belangrik is om die ekonomie, behuising, gesondheidsorg en onderwys vir die ware bevolkingsyfer aan te pas, nie vir die ideale een nie.
# Die damvlakke in die Stad Kaapstad het opgeskiet na gemiddeld 101-persent na die onlangse reën, vergeleke met 99,6-persent verlede jaar. Die stad moedig inwoners nietemin aan om water oordeelkundig te gebruik. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê die direktoraat belê steeds in die Nuwewaterprogram. Dit sluit in ontsouting, grondwaterskemas en hergebruikprojekte. Badroodien sê die pogings mik na 300-miljoen-liter bykomende nuwewater teen 2030, wat afhanklikheid verminder van reënval en damberging verskaf vir toekomstige watersekerheid.
# Rugby: Rassie Erasmus beskou die jong Springbok-agterspeler Sacha Feinberg-Mngomezulu as ‘n toekomstige Bokkaptein. Die nasionale hoofafrigter sê hy het die geleentheid aangegryp vir internasionale ondervinding tydens Suid-Afrika A se toer deur Brittanje in 2022, al het die span verloor. Hy sê mense is geneig om die SA A-toere te onderskat en konsentreer net op die uitslag. Erasmus glo jong spelers moet kans gegee word om te groei en moenie in elke wedstryd speel nie, wat belangrik is vir ‘n lang loopbaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-111-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-421-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….