Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ANC-veterane sê die party word verantwoordelik gehou vir die registrasie van die MK-party
# TLU SA vra dat landbougrond teen vernietigende mynbedrywighede beskerm word
# En, rugby: Die VRK bly groei met ‘n nuwe kykersrekord
# Die adjunkpresident van die ANC-Veteraneliga, Mavuso Msimang, beskuldig die party van nalatigheid om die registrasie van die MK-party toe te laat. Dit volg na die uitskop van die voormalige president, Jacob Zuma, omdat hy die MK-party onderskryf het. Hy het 21 dae om te appelleer. Msimang voer aan die ANC moes vinnig verhoed het dat die party die naam uMkhonto weSiswe gebruik, wat die militêre vleuel van die ANC was:
# Die landbou-organisasie TLU SA sê hy is bekommerd oor die toenemende aantal aansoeke om myne op landbougrond te begin. Bennie van Zyl van die organisasie sê die situasie vereis onmiddellike aandag van die regering. Hy sê TLU SA bly verbind tot die bewaring van landbougrond en die beskerming van gemeenskappe teen die nadelige uitwerking van onbeheerde mynbedrywighede:
# Die Stad Kaapstad sê die geweldige aantal onwettige vuurwapens is ‘n bron van kommer. Beamptes van die wetstoepassingsplan, LEAP, het die naweek binne net meer as 48-uur op vyf onwettige vuurwapens beslag gelê, wat die syfer vir die week op sewe te staan bring. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die stad se wetstoepassers het ook 289 mense aangekeer teenoor 245 die vorige week:
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap het in die 2023/24-seisoen die vorige grootste televisiegehoor oortref en van 37,4-miljoen in 2023 tot 47,7-miljoen vanjaar gegroei. Meer as 1,1-miljoen het gekyk toe Glasgow Warriors die Bulle in die eindstryd klop en meer as 947-duisend kykers na die Bulle in die halfeindstryd op Loftus teen Leinster. Daar was ook ‘n verbetering van drie-persent in algehele bywoning in stadions. Dit het gegroei tot 1,69-miljoen. In die negende ronde was daar ‘n nuwe rekord van 146-duisend toeskouers by agt wedstryde in Suid-Afrika, Ierland, Italië, Skotland en Wallis.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-522-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-389-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling herbevestig sy verbintenis om mensehandel te bekamp met die fokus op die beskerming van kinders. Vandag is Wêrelddag teen Mensehandel. Die departement beklemtoon gemeenskapsbetrokkenheid, internasionale samewerking en om tegnologie in te span om kinderhandel te voorkom. Hy versoek dringendheid om handel te voorkom met die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing wat raam daar is 250-duisend slagoffers in Suid-Afrika.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….