Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA daag Ramaphosa se toespraak van 26 Mei in die Verkiesingshof uit
# NUMSA verkry ‘n verhoog van 6,8%-persent ingevolge ‘n nuwe ooreenkoms met die Gautrein
# En, die Olimpiese Spele: Rafael Nadal en Carlos Alcaraz kan nie net staatmaak op hulle reputasies nie
# Die DA verskyn vandag voor die Verkiesingshof in ‘n saak teen president Cyril Ramaphosa, na sy toespraak aan die land kort voor die algemene verkiesing in Mei. Die woordvoerder van die DA, Karabo Khakhau, sê die party is van mening die president se toespraak het inhoud bevat wat die misbruik van ‘n staatsinstelling was vir partypolitieke doeleindes. Die DA glo dit was onder andere ‘n oortreding van die Verkiesingsgedragskode en Ramaphosa was verplig om dit te eerbiedig.
# Die metaalwerkers-vakbond, NUMSA, het ‘n nuwe ooreenkoms vir een jaar met die Bombela-maatskappy bereik vir ‘n verhoging vir Gautrein-werknemers. Die ooreenkoms behels ‘n verhoging van 6,8-persent, wat hoër is as die inflasiekoers van 5,1-persent. Bykomende voordele sluit in ‘n verhoging van die nagwerksubsidie, skoftoelae en behuisingsubsidie. NUMSA se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die ooreenkoms beëindig die staking en werkers sal môre terugkeer werk toe:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het die Valke gelukgewens met hul bevryding van ‘n sakeman van Gheberha, Calvin Naidoo, wat verlede week ontvoer is. Die Valke het met die hulp van ander wetstoepassingseenhede toegesien dat Naidoo bevry word. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê Mchunu het hul strategiese reaksie geloof, opnuut die regering se verbintenis tot misdaadbekamping bevestig en beloof dat misdadigers vervolg sal word:
# Olimpiese Spele: Sowat 45-duisend polisielede en paramillitêre beamptes, tien-duisend soldate en 20-duisend privaat sekerheidswagte is ontplooi vir môre se openingsplegtigheid in Parys. Dit is egter net ‘n deel van die reusepoging om die parade op die Seine-rivier te beveilig wanneer ‘n Somerspele die eerste keer ooit buite ‘n stadion begin. Die hele gebied strek oor meer as ses-kilometer langs die rivier, met sowat 300-duisend toeskouers wat kaartjies gekoop het, asook duisende inwoners en toeriste in geboue met ‘n uitsig oor die verrigtinge.
Die Spaanse tennisspelers Rafael Nadal en Carlos Alcaraz weet intussen hulle kan nie net op hul reputasies staatmaak om in Parys te wen nie, maar gaan alles moontlik doen om ‘n gebrek aan voorbereiding te oorkom. Nadal, wat in 2008 enkelspel-goud gewen het, het Alcaraz as medespeler in ‘n droomspan op Roland Garros, waar hy nog ‘n dubbels-titel wil voeg by die een wat hy en Marc Lopez in 2016 in Rio verower het. Die 22-malige Grand Slam-kampioen wil egter nie sy verwagtinge te hoog stel nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-51-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-374-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….