Nuus 13:00
BULLETIN 9 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Masemola bevestig sekerheid is verskerp by Mkhwanazi se huis in Durban
# Die Indiese eerste minister is ‘n op geskiedkundige eerste besoek aan Namibië
# En tennis: Teenstanders gaan hof toe oor Wimbledon se uitbreidings-planne
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê sekerheidsmaatreëls is verskerp by die huis van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, in Durban ná doodsdreigemente. Mkhwanazi het die minister van Polisie, Senzo Mchunu, beskuldig van regstreekste inmenging met ondersoeke na politieke sluipmoorde en georganiseerde misdaad deur die elite politieke moord-taakspan te ontbind. Masemola sê hy het nooit opdrag gegee om die taakspan te ontbind nie:
Die GOOD-party vra president Cyril Ramaphosa intussen om die Spesiale Ondersoekeenheid magtiging te gee om Mkhwanazi se verdoemende aantygings te ondersoek. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die SOE is die enigste staatsagentskap met geloofwaardigheid en integriteit om die bewerings te ondersoek:
# Narendra Modi kom vandag in Namibië aan op die eerste besoek deur ‘n Indiese eerste minister sedert die land se onafhanklikheid in 1990. Die besoek is deel van sy toer van vyf lande en sal fokus op die versterking van samewerking in diamanthandel, digitale uitvoere en belangrike minerale soos litium en uraan. Namibië se hoëkommissaris in Indië, Gabriel Sinimbo, sê die besoek sal bilaterale betrekkinge en energie-vennootskappe verbeter:
# Tennis: Die beplande uitbreiding van die Wimbledon-kompleks word tans in ‘n hofsaak in Londen beveg. Die groep Save Wimbledon Park doen regstappe nadat die All England Club beplanningstoestemming gekry het om die hoofterrein te verdriedubbel teen ‘n geraamde koste van 4,8-miljard-rand. Dit sal 39 nuwe bane insluit en die daaglikse toeskouertal van 42- na 50-duisend vermeerder. Die klub wil sy ou gholfbaan herontwikkel, maar teenstanders sê die klub ignoreer beperkings op herontwikkeling waaroor in 1993 ooreengekom is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-89-sent teen die euro en 24-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-626-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-289-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-90-sent per vat.
# En ten slotte: Die Thonga Beach Lodge in die iSimangaliso-vleilandpark in KwaZulu-Natal is die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as Suid-Afrika se voorste strandhotel deur die 2025 Wêreld-reistoekennings. Die lodge, wat gevier word vir sy kombinering van luuksheid met volhoubaarheid, ondersteun mariene-bewaring, skilpad-monitering en plaaslike gemeenskapsontwikkeling deur die Isibindi-stigting. Die oord word geloof vir sy omgewingsbewuste benadering, insluitend plastiekvrye bedrywighede en rifopvoeding, wat hom ‘n leier in doelgedrewe toerisme maak. Die toekenning beklemtoon Suid-Afrika se toenemende reputasie vir bewaringsgeleide gasvryheid op die wêreldverhoog.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….