Nuus 13:00
BULLETIN 4 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se rooivleisbedryf baat by ‘n deurbraak-ooreenkoms met Egipte
# Dali Mpofu voer aan slegs die Parlement is verantwoordelik in die Ramaphosa-saak
# En krieket: Die Proteas hoop vandag op die heel eerste T20-oorwinning oor Namibië in Windhoek
# Die minister van Landbou, Willie Aucamp, het ‘n deurbraak in uitvoeronderhandelings met Egipte aangekondig wat ‘n beduidende hupstoot vir Suid-Afrika se rooivleisbedryf kan beteken. Hy sê die ooreenkoms is ‘n belangrike mylpaal vir die landbousektor, wat die afgelope tyd teen een van die ergste uitbrekings van bek-en-klouseer in dekades worstel. Aucamp sê Suid-Afrika en Egipte het onderhandelings afgehandel oor ‘n diere-gesondheidsertifikaat vir rooivleis-uitvoere van Suid-Afrika na Egipte.
# Die MK-party se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, sê dit berus by die Parlement om ‘n doeltreffende proses vir president Cyril Ramaphosa se verwydering daar te stel. Hy het die voorlegging in die Wes-Kaapse Hooggeregshof gelewer waar Ramaphosa die bevindings van die Artikel 89-onafhanklike paneel oor die diefstal op sy plaas, Phala Phala, betwis. Mpofu sê die Parlement moet bepaal hoe die proses werk en enige geregtelike hersiening berus by die Konstitusionele Hof:
# Die Gautengse Departement van Menslike Nedersettings sê die DA se verklaring oor die onwettige besetting van behuisingsprojekte is misleidend. Die party beskuldig die departement dat hy versuim om behuisingsprojekte te beskerm en sê 14 is die afgelope vyf jaar onwettig beset – onder meer Eagle Nest, Western Mega Project en Danville. Woordvoerder Tahir Sema sê die DA ignoreer die optrede wat reeds plaasvind om projekte te hanteer wat deur sindikate gekaap is:
Nuus uit die buiteland:
# Die Argentynse president, Javier Milei, dreig met ekonomiese sanksies teen ondernemings wat olie-verkenningswerk rondom die Brits-besette Falkland-eilande doen. Die eilandgroep in die suidwestelike Atlantiese Oseaan bly die onderwerp van ‘n soewereiniteitsgeskil tussen Brittanje en Argentinië, meer as 40 jaar ná ‘n oorlog oor die gebied. Milei beweer Brittanje gee nie gehoor aan die Verenigde Nasies se oproep om nie eensydige optrede in die gebied te onderneem nie. Downingstraat sê die soewereiniteit van die Falkland-eilande berus by die Verenigde Koninkryk.
# Krieket: ‘n Jong Protea-span hoop op ‘n heel eerste T20-oorwinning oor die gasheer in vandag se driehoekreeks-wedstryd in die Namibiese hoofstad, Windhoek. Suid-Afrika het verlede week die openingswedstryd teen Namibië verloor, wat kaptein Björn Fortuin as ‘n groot ontnugtering beskryf het. Die Proteas het Zimbabwe daarna egter twee keer verslaan en sal met ‘n oorwinning vandag deurdring na Sondag se eindstryd. Suid-Afrika is sonder talle gereelde spelers, maar kan staatmaak op opwindende jong talente soos Lhuan-dré Pretorius, Dewald Brevis en Kwena Maphaka, en die ervare Tony de Zorzi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-37-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-467-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….