Nuus 13:00
BULLETIN 16 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê daar is geen teenstrydighede in Suid-Afrika se buitelandse beleid en menseregte nie
# Nog ‘n terugslag vir Sunak en die Konserwatiewe Party in Brittanje
# En rugby, Ierland en Wallis speel in ander truie ter wille van kleurblinde toeskouers
# President Cyril Ramaphosa het die voorstel verwerp dat die Suid-Afrikaanse regering ‘n teenstrydige buitelandse beleid oor menseregte volg. Ramaphosa het met joernaliste by die Kaapstadse Persklub gepraat nadat hy op die staatsrede-debat gereageer het. Hy sê menseregte is die grondslag van die land se buitelandse beleid. Die president sê hy streef vrede na, nie net in Gaza, Palestina nie, maar ook in Oekraïne, Soedan en in ander Afrika-lande:
# Tshwane se stadsbestuurder, Johann Mettler, het tot Maandag om die Tesourie te oorreed om nie befondsing vir die munisipaliteit terug te trek nie. Die Tesourie eis die metro moet sy onderbesteding aan ontwikkelingstoelaes regverdig. Die stad kan miljoene verbeur weens kwessies wat verband hou met onderprestasie en nie-nakoming. Die ANC in die streek gee die DA-geleide koalisie die skuld en meen hulle het die stad in duie laat stort. Die voorsitter, Eugene Modise, sê die fondse moes vir dienslewering gebruik gewees het:
# Eskom het beurtkrag afgradeer na fase twee danksy die terugkeer van bykomende opwekkingseenhede, voldoende noodreserwes en ‘n verwagte daling in die vraag na elektrisiteit. Dit sal tot verdere kennisgewing voortduur. Woordvoerder Daphne Mokwena verseker die publiek die kragstelsel word voortdurend gemonitor, en beloof enige beduidende verandering sal onmiddellik oorgedra word.
# Brittanje se Konserwatiewe Party het nog twee parlementêre setels in tussenverkiesings aan die Arbeidersparty afgestaan. Dit is voor ‘n nasionale verkiesing ʼn onheilspellende terugslag vir die beleërde eerste minister, Rishi Sunak, en span die kroon op ʼn slegte week terwyl hy sukkel om steun vir sy party te werf. Volgens amptelike data is Brittanje in ʼn resessie nadat die ekonomie twee agtereenvolgende kwartale gekrimp het. Die Konserwatiewes, wat sedert 2010 aan bewind is, gaan volgens verwagting die algemene verkiesing verloor wat Sunak beloof het om in die tweede semester uit te roep.
# Rugby: Ierland en Wallis sal dalk in alternatiewe truie speel wanneer hulle mekaar in die toekoms aandurf. Dit is om dit vir kleurblinde toeskouers makliker te maak om na hul wedstryde te kyk. Die kombinasie van Wallis se tradisionele rooi en Ierland se groen truie hou besondere probleme in vir kleurblinde toeskouers, wat dan moeilik wedstryde kan volg. Wanneer Wêreldrugby se nuwe regulasies aan die einde van die jaar in werking tree, sal die onus op die besoekende span berus om ’n verandering te maak, indien nodig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-834-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-5-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….