Nuus 13:00
BULLETIN 29 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA sê regering kan nie daling van 5,9% in moordsyfer as oorwinning voorhou nie
# COSATU vra verligting met brandstofpryse wat weer styg
# En, Rugby: Kolisi sê Bokke kan moed skep uit vorige terugslae en oorwinnings
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê die land se jongste kwartaallikse polisiemisdaadstatistiek bied geen rede vir selfvoldaanheid nie. Tussen April en Junie vanjaar is vyf-duisend-427 mense in Suid-Afrika vermoor. Kontakmisdaad het met 2,3- persent afgeneem, terwyl die aantal moorde met 5,9-persent gedaal het. Bennie van Zyl van TLU SA sê egter die regering kan nie ‘n afname van 5,9-persent as ‘n oorwinning voorhou terwyl byna 60 mense steeds daagliks vermoor word en ander ernstige geweldsmisdade toeneem nie:
# COSATU doen ‘n beroep op dringende maatreëls om werkers en die ekonomie te beskerm teen die skerp brandstofprysstygings wat volgende week verwag word. Petrol sal na verwagting met tot een-rand-sewe-sent per liter styg, terwyl diesel met soveel as twee-rand-92-sent kan styg. Die vakbondfederasie sê die verhogings sal verdere druk op huishoudings plaas wat reeds met hoë vervoerkoste en lewenskoste sukkel. Hy waarsku werkers bestee reeds ‘n aansienlike deel van hul inkomste om werk toe te gaan, terwyl hoër brandstofkoste bydra tot druk op die breër ekonomie.
# SAFTU het die regering en die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding versoek om die transformasie van die hoëronderwyssektor te prioritiseer. Statistiek toon 39,7-persent van die professore aan die Universiteit van Kaapstad is wit, 39,3- persent is buitelandse burgers, terwyl Afrika-, bruin en Indiese professore saam slegs 22,6-persent uitmaak. Asive Dyani van SAFTU sê dit moet nie ‘n kompetisie tussen swart Suid-Afrikaners en swart Afrikane van elders op die vasteland word nie, terwyl die geskiedenis van rassebevoordeling nog steeds voortduur:
# Rugby: Siya Kolisie sê die Springbokke kan moed skep uit vorige terugslae terwyl hulle voorberei vir vanmiddag se groot wedstryd teen die All Blacks net na vyf. Suid-Afrika is met een-nul agter in die reeks van vier toetse en moet wen om ‘n kans te staan om die Greatest Rivalry-trofee te wen. Kolisi, wat terug in die span is na ‘n besering, sê die Bokke was voorheen al in ‘n moeilike posisie ondermeer na hulle die openingswedstryd by die 2019-Wêreldbeker verloor het en die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus in 2021. Hy sê daardie ervarings het hulle sterk gemaak.
En nog rugby: Die Springbokke sal weereens die nommer-een-posisie op die wêreldranglys beklee as hulle vandag teen die All Blacks in Kaapstad wen. Suid-Afrika het die posisie aan Nieu-Seeland afgestaan ná verlede naweek se nederlaag van 33-16 in die eerste toets van die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks op Ellispark. Ierland is tans derde op die ranglys, gevolg deur Frankryk, Engeland en Skotland. Argentinië lê in die sewende plek, Australië is agtste, Fidji negende, en Wallis tiende. Die wedstryd op die Kaapstad-stadion begin vanmiddag net ná vyfuur.
#Ten slotte: ‘n Agtjarige seun wat Nepal se verwoestende vloede oorleef het deur in ‘n woud in te hardloop en in bome te klim, is met sy ma herenig. Zoyal Ghale is uit die vloedgeteisterde Rasuwa-distrik gered met ‘n gebreekte been en beserings aan sy gesig, en toe per helikopter na die hospitaal in Kathmandu geneem. Sy ma het dae lank skuilings vir Zoyal en sy broer deursoek en was bevrees dat albei seuns dood is. ‘n Reuters-joernalis wat Zoyal ontmoet het, het gehelp om sy familie op te spoor, en sy ma kon uiteindelik die hospitaal bereik en met hom verenig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….