Nuus 13:00
BULLETIN 28 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyf van ses Suid-Afrikaners wat vermis word ná verwoestende oorstromings in Nepal en Tibet is van KwaZulu-Natal
# Die DA dien kandidatelyste vir al 257 munisipaliteite in by die OVK
# En rugby: Stransky en Brooke is die eerste spelers wat aangewys word in die heldesaal se Klas van 2026
# Vyf van die ses Suid-Afrikaners wat vermis word na die verwoestende oorstromings in Nepal en Tibet is van KwaZulu-Natal. Die LUR vir Vervoer en Menslike Nedersettings, Siboniso Duma, sê die ander een is van KuGompo City in die Oos-Kaap. Minstens 270 mense is volgens berigte dood en meer as een-duisend-300 is nog nie opgespoor nie. Die departement se woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, sê die owerhede ondersteun die betrokke gesinne:
# Die DA het vandag sy kandidatelyste vir al 257 munisipaliteite en vier-duisend-484 wyke by die Verkiesingskommissie ingedien vir November se plaaslike regerings-verkiesing . Politieke partye het tot vanmiddag vyf-uur tyd om hul lyste in te dien. Ashor Sarupen van die DA sê kandidate het ‘n streng keuringsproses ondergaan om te verseker geskikte en toegewyde openbare verteenwoordigers word aangewys wat kiesers se vertroue verdien:
# Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie het die Nasionale Tesourie genader vir ‘n amptelike staatswaarborg om befondsing teen gunstiger voorwaardes te bekom en sy ontwikkelingsmandaat te versterk. Die staatsbeheerde instelling het ook met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gepraat oor moontlike belastingvrystellings soortgelyk aan dié van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika. Die finansiële hoof, Isaac Malevu, sê ‘n staatswaarborg kan die instelling se kredietrisiko verminder en sy kredietgradering verbeter terwyl befondsing vir strategiese bedrywe ondersteun word.
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Maatskaplike Ontwikkeling en die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor Maatskaplike Dienste het ‘n gesamentlike subkomitee aangewys om benoemings vir vakante poste op die raad van die Sentrale Dwelmowerheid te hersien en te verwerk. Die voorsitter van die portefeuljekomitee, Bridget Masango, sê die owerheid het reeds ‘n geruime tyd nie ‘n volwaardige raad nie nadat die vorige raad se termyn in Maart geëindig het:
# Rugby: ‘n Held in die Springbokke se Wêreldbekerwenspan van 1995, Joel Stransky, en die voormalige All Black-legende Zinzan Brooke is in Wêreldrugby se heldesaal opgeneem. Nog vyf name sal vroeg in September aangekondig word om die klas van 2026 te voltooi. Stransky het al Suid-Afrika se punte aangeteken in die Springbokke se geskiedkundige oorwinning van 15-12 oor Nieu-Seeland in ’95 se eindstryd. Wêreldrugby se voorsitter, Brett Robinson, sê Stransky se naam sal altyd verbind word met een van rugby se kragtigste en mees verenigende oomblikke.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-389-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-602-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….