Nuus 13:00
BULLETIN 11 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
Die jongste nuusflits oor beurtkrag: # Fase 5-beurtkrag is vanaf 12-uur vanmiddag ingestel tot verdere kennisgewing.
In die bulletin:
# Vordering word gemaak in die ondersoek na die dubbele moord op AKA en Tibz
# Krieket: Die Sunrisers verslaan die Super Giants en verower die SA20-titel
# En, Sokker: President Cyril Ramaphosa woon vanmiddag die ` Football for Humanity-wedstryd by
# Die nasionale Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, het die publiek en families wat geraak word, verseker die SAPD jaag daadwerklik leidrade na in die dubbelmoord-saak van Kiernan ‘AKA’ Forbes en Tebello ‘Tibz’ Motsoane. Mathe erken die sensitiwiteit van die saak en bevestig die vordering oor die afgelope jaar, met deurslaggewende bewyse wat geïdentifiseerde verdagtes verbind. AKA en Tibz is ‘n jaar gelede buite Wish on Florida-restaurant in Durban, KwaZulu-Natal vermoor:
# Die saak teen die Veiligheidsrisikobestuurder van Eskom, Thandi Ruth Magagula, van Middleburg in Mpumalanga , is in die Middleburg-Streekhof uitgestel tot 26 Maart 2024. Magagula staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery nádat die Valke haar in Middelburg in hegtenis geneem het. Sy het na bewering versuim om ‘n botsing van belange te verklaar terwyl sy as ‘n Eskom-bestuurder en as direkteur gedien het van ‘n maatskappy wat dienste aan Eskom verskaf. Magagula is borgtog van tien-duisend-rand toegestaan.
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het mense weereens versoek om nie uitgespoelde seediere wat langs die Weskus gevind word te eet nie, weens die jaarlikse rooigety-verskynsel. Dit sluit in garnale, krappe, inkvis, seewurms, haaie en krewe. Die departement se woordvoerder, Peter Mbelengwa, sê die voorkoms van uitgespoelde kreef hou aansienlike gesondheidsrisiko’s in, weens potensiële besoedeling deur alge-gifstowwe wat ernstige siektes of selfs die dood kan veroorsaak as dit ingeneem word:
# Krieket: ’n Uitstekende, veelsydige vertoning van die Sunrisers Eastern Cape het daartoe gelei dat hulle die Durban Super Giants met 89 lopies vermorsel het en gisteraand hul tweede agtereenvolgende SA20-titel op Nuweland in Kaapstad verower het. News24 berig die Sunrisers Eastern Cape het van die begin tot die einde spel oorheers om agtereenvolgens die SA20-titels te verower. In ‘n uitverkoopte Nuweland-eindstryd het die Sunrisers Eastern Cape ‘n kliniese vertoning gelewer en die Durban Super Giants oortuigend met 89 lopies geklop. Die Sunrisers se kaptein, Aiden Markram, het sy span se vertoning geloof, terwyl Lance Klusener van DSG gesê het die Sunrisers was “ligjare” voor.
# En laastens: President Cyril Ramaphosa sal vanmiddag die Football for Humanity-wedstryd tussen die Palestynse nasionale span en ‘n Suid-Afrikaanse span op die Athlone-stadion in Kaapstad bywoon. Die geleentheid word gehou onder die tema, Vrede, Hoop en Solidariteit, en poog om Palestynse spelers die geleentheid te bied om in vreedsame omstandighede te speel. Die Suid-Afrikaanse Uitnodigings-elftal sal volgende Sondag teen die Palestynse besoekers in die Freedom Cup te staan kom, afgerig deur die sokkerlegendes, Jomo Sono en Farouk Khan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….