Nuus 13:00
BULLETIN 10 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale verbruikerskommissie vra dat sekere handelsname grondboontjiebotter teruggeneem word
# Die Publiek word gemaan om nie uitgespoelde seediere te eet nie te midde van Rooigety aan Weskus
# En, President Ramaphosa dra goeie wense oor met Chinese Nuwejaar
# Die Nasionale Verbruikerskommissie maan verbruikers om die gebruik van sekere handelsmerke grondboontjiebotter onmiddellik te staak en dit na die winkel waar dit gekoop is terug te neem vir ‘n terugbetaling. Die kommissie se woordvoerder, Phetho Ntaba, sê die handelsmerke sluit in Dischem’s Lifestyle 400 en 800-gram Smooth en Crunchy, Wazoogles Superfoods in alle groottes, Pick n’ Pay’s se No Name 1kg Smooth, en Eden All Natural-grondboontjiebotter. Daar is bevind dat die produkte hoër as aanvaarbare vlakke Afla-toksien bevat:
# Groot getalle dooie seediere het op die strande aan die Weskus uitgespoel weens die jaarlikse rooigety. Die sterftes sluit groot getalle garnale, krappe, seekatte en baie ander spesies in. Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, in samewerking met verskeie nasionale en plaaslike owerhede, het vinnig gereageer op die uittog deur middel van ‘n spesiale gebeurlikheidsplan, en waarsku lede van die publiek om nie die uitgespoelde seediere te eet nie, omdat dit deur alg-gifstowwe besmet kan wees. Inname van hierdie gifstowwe kan lei tot ernstige nadelige reaksies en selfs sterftes.
# Die adjunk-minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Hendriette Bogopane-Zulu, in samewerking met die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling, USAID, stel môre die tjommie-program in Manenberg, Kaapstad bekend. Dit teiken tien- tot 14-jariges in ‘n gemeenskap wat deur bendegeweld en dwelmmisbruik geteister word. Die program is gemik op die vestiging van positiewe vriendskappe en wil die jeug motiveer om risiko-gedrag te laat vaar en maatskaplike kwessies soos afknouery te takel. Woordvoerder Lumka Oliphant sê die program beoog om MIV-besmettings, middelmisbruik en tienerswangerskappe te verminder deur kennis, vaardigheidsontwikkeling en jeugbemagtiging:
# President Cyril Ramaphosa het sy goeie wense aan die Chinese president, Xi Jinping, van die Volksrepubliek van China en die Chinese gemeenskap in Suid-Afrika oorgedra met die viering van die Chinese Nuwejaar vandag. Ramaphosa het hulle die lewenslus en goeie geleenthede toegewens wat die Jaar van die Draak vir Chinese gemeenskappe wêreldwyd simboliseer. Hy het ‘n oproep gedoen vir die verstewiging van die strategiese vennootskap tussen die twee lande en die hoop uitgespreek dat voorspoed, innovering, wêreldvrede en ontwikkeling gekoester sal word.
# En, laastens, Sokker: Die Afrikabeker het ‘n rekord van 116 doele opgelewer met nog twee wedstryde oor, maar die eindstryd tussen die gasheer Ivoorkus en Nigerië kan ‘n laer telling oplewer sou die geskiedenis herhaal word. SuperSport berig daar was net tien doele in die afgelope tien eindstryde van die Afrika-sokkerpronkstuk, en ses daarvan het in net twee titelbeslissings voorgekom. Van die ander agt eindstryde is vier met ‘n enkele doel gewen en vier met strafdoele. Die afskop is om 10:00 môre-aand. Vanaand om tienuur sal Bafana Bafana dit uitspook vir ‘n bronsmedalje teen die DRK.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….