Nuus 13:00
BULLETIN 1 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verwelkom Seriti Green se nuwe ooreenkoms om tien-miljard-rand in Suid-Afrika se energieproduksie te belê
# Minister Aucamp stel nuwe lede aan vir die bedryfskoördineringsraad oor bek-en-klouseer
# En: ActionSA verwelkom die Hooggeregshofuitspraak oor Mettler
# President Cyril Ramaphosa het Seriti Green geprys vir hul bykomende 10-miljard-rand-belegging in Mpumalanga se hernubare energiesektor en noem dit ‘n belangrike mylpaal in Suid-Afrika se energieproduksie. Hy sê die bykomende 10-miljard-rand sal die maatskappy se algehele toegewyde belegging in die streek op 25-miljard-rand te staan bring. Ramaphosa sê die regering beplan ‘n verdere 600-megawatt vir windenergie-opwekking, wat een van die grootste hernubare energiesentrums in Suider-Afrika sal vestig. Altesaam 187 windturbines word daarvoor beoog.
# Die minister van Landbou, Willie Aucamp, het aangekondig die voorsitter van SAAI, Theo de Jager, en die direkteur van die Veeartsenynetwerk, Danie Odendaal, is as lede van die Bedryfskoördineringsraad vir Bek-en-klouseer aangestel. Die raad bestaan uit rolspelers in die bedryf en is gestig om te verseker die bedryf speel ‘n daadwerklike en gesamentlike rol in die uitvoering van die Nasionale Strategie vir Bek-en-klouseer. Die minister sê dit sluit in entstofverspreiding, naspeurbaarheid en siektebeheer:
# Soil of Africa verwelkom president Cyril Ramaphosa se aanstelling van sewe lede van die Nasionale Raad vir Geslagsgeweld en Vrouemoord vanaf vandag tot Julie 2029. Die beweging se woordvoerder, Luzuko Sofute, sê die stigting van ‘n volledig saamgestelde Raad is ‘n belangrike mylpaal in Suid-Afrika se voortgesette pogings om geslagsgeweld te bestry. Hy sê geslagsgeweld bedreig steeds die veiligheid, waardigheid en basiese menseregte van vroue, kinders en kwesbare persone regoor die land.
# ActionSA verwelkom die Pretoriase Hooggeregshofuitspraak wat die skorsing van Stad Tshwane se munisipale bestuurder, Johann Mettler, verbied. ActionSA sê sy stem teen die skorsing moes voldoende gewees het om dit te verhoed. Die party se voorsitter, Michael Beaumont, sê egter die verlof wat aan ‘n groot aantal DA- en VF Plus-raadslede toegestaan is, het gelei tot die Speaker van die Raad se besluit om die stemme van dié raadslede buite rekening te laat toe hulle later by die Raadsvergadering opgedaag het:
# Spanje het Vrydag gesê hy het ‘n reusestormloop van migrante na ‘n Spaanse enklawe in Noord-Afrika omgekeer. Die meeste van die meer as 50-duisend mense wat die grens oorgesteek het oor land en see, het reeds vrywillig teruggekeer. Die Spaanse regering sê 57 liggame is aan die Spaanse kant van die grens gevind. Sommige migrante het verdrink, terwyl ander vertrap is in pogings om oor die grensheining te klim. Die stormloop op die grens het verdeeldheid in Europa gesaai, met leiers van ander EU-lidlande wat Spanje versoek het om die krisis onder beheer te bring.
# En rugby: Min skolewedstryde kry meer aandag as vandag se interskole-kragmeting tussen Gimnasium en Boishaai in die Paarl. Die Bolandse dorp is weer verdeeld vir die jaarlikse stryd, met die hoofwedstryd tussen die eerste spanne wat om vier-uur by die Faurestraat-stadion afskop. Gimmies wil verlede jaar se nederlaag wreek nadat hulle verlede jaar ‘n voorsprong van 33-21 verbeur het en met 35-33 verloor het. Die twee skole het saam 58 Springbokke opgelewer, met Gimmies se 2025-kaptein, Markus Muller, wat as ‘n toekomstige Bok-ster beskou word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….