Nuus 13:00
BULLETIN 9 Februarie 13 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA weier om die N-S-FAS-verslag terug te trek ondanks dreigemente oor regstappe
# Sake- en woonkomplekse in Midrand skuld City Power 360-miljoen-rand
# En, mans wat Viagra drink se risiko vir Alzheimer-siekte kan minder wees
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê hy sal nie sy verslag terugtrek oor uitgelekte stemopnames wat die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, en die voorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Ernest Khosa, by korrupsie betrek nie, in weerwil van dreigemente oor regstappe. Khosa het ‘n terugtrekking geëis, maar OUTA sê dit is sy plig om bewyse by wetstoepassers aan te meld. Die organisasie sê hy is gereed om onder spesifieke voorwaardes met Khosa in gesprek te tree. Stefanie Fick van OUTA sê hulle sal kragtige verdediging aanteken teen enige moontlike regstappe:
# Die Bedingingsraad vir Metaal- en Ingenieursbedrywe verwag vanjaar moeilike salaris-onderhandelings weens ekonomiese uitdagings in die sektor. Die voor-onderhandelings-konferensie in Kemptonpark, Gauteng, was toonaangewend vir die komende besprekings. Arbeidsverteenwoordigers bepleit meestal dat die huidige ooreenkoms met nog ‘n jaar verleng moet word. Lucio Trentini van die Staal- en Ingenieursbedryfs-federasie van Suider-Afrika hoop op positiewe uitkomste in die komende onderhandelings ten einde stakings te voorkom:
# City Power het gister in Midrand sy inkomste-invorderingsveldtog vir die jaar afgeskop. Hy het talle sake- en woon-komplekse in sy visier wat weens agterstallige elektrisiteitsrekeninge miljoene rand skuld. In die Midrand-gebied skuld kliënte die Stad Johannesburg se kragverskaffer 360-miljoen-rand. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê hulle konsentreer op 14 kliënte wat byna 58-miljoen-rand skuld:
# Olimpiese Spele: Die medaljes wat op vanjaar se Spele in Parys toegeken word, sal ‘n stukkie van die Eiffeltoring bevat. Die organiseerders het die medaljes onthul, wat ‘n seshoekige stukkie yster bevat wat soos ‘n edelsteen in die middel van die medaljes geplaas is. Die metaal is verkry van ‘n pakhuis waarin die bedryfsmaatskappy wat die toring in stand hou, afvalstukke van die staal berg. Die medaljes is ontwerp deur die hoog-aangeskrewe plaaslike juweliersmaatskappy Chaumet (SHOW-may). Altesaam vyf-duisend-84 goue, silwer en brons medaljes sal toegeken word tydens die Spele, wat van 26 Julie tot 11 Augustus plaasvind.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-603-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-32-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-46-sent per vat.
# En laastens, ‘n studie dui op die moontlikheid van ‘n verminderde risiko vir Alzheimersiekte by mans wat Viagra gebruik. Wetenskaplikes het navorsing gedoen onder meer as 260-duisend mans en gevind diegene wat die middel vir impotensie gebruik, 18-persent minder geneig was om die toestand te ontwikkel wat demensie veroorsaak. BBC News berig wetenskaplikes is ook op soek na bestaande medisyne wat Alzheimers kan voorkom of vertraag. Viagra is oorspronklik ontwerp om hoë bloeddruk te behandel, en werk deur op te tree deur ‘n ‘n sel-sein-boodskapper wat ook aan geheue gekoppel kan word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….