Nuus 13:00
BULLETIN 24 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Siyafana Sonke eis die onmiddellike inhegtenisneming van anti-migrante-sleutelfigure
# Vier mense verskyn in die hof vir die moorde in Gqeberha
# En Benjamin Netanyahu sê Israel moenie meer afhanklik wees van Amerikaanse wapens nie
# Die Siyafana Sonke-aksieveldtog vra ‘n dringende vergadering met die Presidensie en sleutel‑regeringstrukture om diskriminerende geweld te beëindig voor Dinsdag se beplande landswye betogings. Woordvoerder July Eccles sê hulle eis die onmiddellike inhegtenisneming van aanhitsers en vigilante‑optrede, spesifiek leiers van Operation Dudula en March and March, naamlik Zandile Dubula, Jacinta Ngobese‑Zuma, Nkosikhona Ndabandaba en Ngizwe Mchunu, vir die aanhitsing van geweld en haat, sowel as aanranding, onwettige deursoekings en ander misdade:
Forum for South Africa kritiseer intussen die 600-miljoen-rand wat toegeken is om veiligheidsmaatreëls te versterk voor die betogings. KwaZulu-Natal, Gauteng, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap word beskou as moontlike brandpunte vir geweld. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, het die uitgawes beskryf as paniekbesteding, politieke vertoon en ‘n moontlike plunder-geleentheid wat vermom is as ‘n spesiale operasie om die land te beskerm:
# Vier mans het in ‘n Oos-Kaapse hof verskyn nadat hulle in hegtenis geneem is vir die moord op vier mense tydens ‘n aanval in KwaDwesi, Gqeberha, vroeër die maand. Die aanvallers het ‘n huis binnedring en begin losbrand. ‘n Man en drie vroue is dood en twee mense gewond. Die mans het in die Landdroshof in New Brighton verskyn op aanklag van moord en poging tot moord, en die saak is tot Maandag uitgestel vir formele borgtogaansoeke. Die polisie se waarnemende distrikskommissaris, Loyiso Ngalo, verwelkom die inhegtenisnemings.
Nuus uit die buiteland:
# Eerste minister Benjamin Netanyahu sê Israel moet homself bevry van militêre afhanklikheid van Amerika en sy eie vermoë ontwikkel om wapens te vervaardig. Amerika het sedert 2008 jaarliks sowat 62,8-miljard-rand se militêre hulp aan Israel voorsien ingevolge ‘n ooreenkoms van verstandhouding. Die tien-jaar‑ooreenkoms geld tot 2028. Netanyahu sê die strewe na militêre selfstandigheid vorm deel van ‘n breër poging om die land se langtermyn nasionale mag te versterk. Hy wil ook hê Israel moet meer gebruik maak van tegnologie en meer geslagte militêre bevelvoerders oplei.
# Krieket: Die veelsydige Protea-speler Marizanne Kapp glo hulle beste lê nog voor terwyl hulle steeds ‘n kans het om die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi te haal. Suid-Afrika het Sondag ‘n broodnodige oorwinning met ses paaltjies oor Indië behaal nadat hulle hul openingswedstryd teen Australië met 65 lopies verloor het. Hulle het Pakistan wel daarna naelskraaps gewen. Die Proteas moet groot oorwinnings oor Nederland en Bangladesj behaal om hul netto-lopiekoers te verbeter indien Indië ook hul oorblywende wedstryde wen. Kapp sê hulle sal alles moet uithaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-611-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-70-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….