Nuus 13:00
BULLETIN 23 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie ontplooi ‘n taakspan om die naweek se politieke moorde te ondersoek
# Namibië weier Starlink se appèl teen die verwerping van sy vorige lisensie-aansoek
# En rugby: ‘n Suid-Afrikaans-gebore senter is een van vyf nuwelinge in Engeland se groep vir die Nasieskampioenskap
# Die polisie het sy taakspan vir politieke moorde ontplooi om ondersoek in te stel na die moord op vier politieke partylede tydens die kieser-registrasienaweek. Waarnemende kommissaris Puleng Dimpane sê die moorde was op ‘n DA-kandidaat in ‘n tussenverkiesing in Kaapstad, ‘n ANC-raadslid van die Oos-Kaap en twee MK-partylede van die Gautengse Wes-Rand. Sy sê al die slagoffers is aangeval toe hulle teruggekeer het van kieser-registrasienaweek-bedrywighede. Ondersoeke duur voort.
# Adjunkpresident Paul Mashatile het die sterk politieke vertroue en solidariteit van die verlede herbevestig wat steeds die verhouding tussen Suid-Afrika en China rugsteun, binne die raamwerk van omvattende strategiese samewerking. Hy het vandag ‘n bilaterale gesprek met China se visepresident, Han Zheng, gehad as deel van sy werksbesoek aan die land. Mashatile sê Suid-Afrika is verbind tot die opbou van volhoubare vennootskappe met Chinese private en staatsverbonde ondernemings:
# Die Namibiese Kommunikasie-reguleringsowerheid het ‘n appèl-aansoek van Starlink van Elon Musk van die hand gewys nadat sy lisensie‑aansoeke vroeër afgekeur is. Die aansoek om vaste satellietdienste te lewer is in Maart verwerp omdat dit nie aan plaaslike eienaarskapsvereistes voldoen nie. Namibiese wetgewing verbied telekommunikasielisensiehouers om deur buitelanders beheer te word, en beperk buitelandse eienaarskap tot 49-persent. ‘n Ekonoom van Cirrus Capital, Oliver Diggle, sê dis ‘n aansienlike terugslag vir Namibië:
# Rugby: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, het die Suid-Afrikaans-gebore senter Benhard Janse van Rensburg en nog vier nuwelinge ingesluit in sy groep vir die eerste Nasieskampioenskap. Die 27-jarige sal nie beskikbaar wees vir volgende naweek se toets teen die Springbokke nie omdat sy verblyftydperk van drie jaar eers daarna in werking tree. Die skrumskakel Alex Mitchell is terug na ‘n besering. Engeland speel ook teen Fidji en Argentinië. Borthwick sê die groep is ‘n goeie mengsel van ervaring en opkomende talent.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-433-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-112-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 76-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: SANParke sê die Godumodumo-dinosourussentrum in die Golden Gate-Hoogland-Nasionale Park in die Vrystaat het op sy eerste herdenking reeds meer as 100-duisend besoekers verwelkom. Daar was meer as 101-duisend besoekers sedert die sentrum op 22 Junie verlede jaar geopen het, insluitend meer as 40-duisend leerders en onderwysers van 272 skole. Die sentrum stel Afrika se oertydse erfenis ten toon, met interaktiewe uitstallings en fossielvertonings. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê dit gee plaaslike toerisme ‘n hupstoot, het werk geskep en ekonomiese geleenthede vir omliggende gemeenskappe gebied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….