Nuus 13:00
BULLETIN 22 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Data van die Sentrale Energiefonds dui op sterk brandstofprysverligting in Julie
# TLU SA sê die vervanging van die minister van Landbou sal nie die bek-en-klouseer-krisis oplos nie
# En rugby: Ardie Savea is die All Blacks se nuwe kaptein
# Suid-Afrikaners kan vroeg volgende maand groot verligting verwag by brandstofpompe. Die jongste data van die Sentrale Energiefonds toon ‘n sterk oorverhaling in petrol- en dieselpryse. Daar is tans ‘n oorverhaling in petrolpryse van 2,94-rand per liter en tussen 4,57- en 4,97-rand per liter vir dieselpryse. Ontleders sê dit dui op noemenswaardige brandstofprysverlagings in Julie, onderhewig aan heffingsaanpassings. Dit volg ná wêreldwye konflik wat die land benadeel het, met strawwe brandstofpryse wat ondernemings, motoriste, lugdienste en die taxibedryf swaar getref het.
# ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê die regering moet ophou om Suid-Afrikaners soos misdadigers te behandel oor onwettige migrasie. Dit volg te midde van anti-onwettige immigrantegroepe wat voorspraak maak vir sterker afdwinging van immigrasiewette en die beskerming van geleenthede vir Suid-Afrikaanse burgers. ActionSA se woordvoerder, Omogolo Taunyane, sê die eis om immigrasiewette af te dwing, is nie ekstremisme, haat of xenofobie nie, maar ‘n wettige openbare beleidskwessie in elke werkende demokrasie:
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê die vervanging van die minister van Landbou, John Steenhuisen, sal nie die bek-en-klouseer-krisis oplos nie. DA-leier Geordin Hill-Lewis het president Cyril Ramaphosa gevra om Steenhuisen te vervang met die huidige minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp. TLU SA se president, Bennie van Zyl, sê die regering moet sy gesentraliseerde inentings- en verkrygingsbeleid verander en die privaat sektor toelaat om die krisis te bestuur:
# Rugby: Ardie Savea is aangewys as die All Blacks se nuwe kaptein in aanloop tot volgende maand se Nasieskampioenskaps-toetse teen Frankryk, Italië en Ierland. Hy vervang Scott Barrett, wat ‘n langtermyn-besering het. Afrigter Dave Rennie het ʼn groep van 34 aangewys wat vier nuwelinge insluit: Xavier Numia, Josh Moorby, Fehi Fineanganofo en Anton Segner. Savea sê kapteinskap gaan daaroor dat elkeen in die groep bemagtig word om die beste te wees:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-51-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-202-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-93-sent per vat.
# En ten slotte: Unilever is aangesê om die verpakking van sy Sunlight Platinum-skottelgoedwasmiddel te verander nadat die Advertensie-reguleringsraad bevind het sy bemarkings-bewerings is misleidend. Die voorkant van die bottel adverteer ‘n 100-persent plantgebaseerde formule. ‘n Verbruikersklag het egter onthul daar staan agterop in kleinletters dat ander nie-plantgebaseerde bestanddele ingesluit is. Die onderneming voer aan die voorkant verwys na ‘n 100-persent natuurlike aktiewe oppervlakstof. Die raad het egter beslis ‘n gemiddelde verbruiker sou aanvaar die produk as geheel is 100-persent plantgebaseerd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….