Nuus 13:00
BULLETIN 19 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lesetja Senona se regsverteenwoordiger is bekommerd oor die regverdigheid van die Madlanga-kommissie
# AfriForum waarsku grondeienaars om vir ‘n strawwe winterveldbrandseisoen voor te berei
# En rugby: Die veteraan Slipper keer sy uittrede om om weer vir die Wallabies te speel
# Die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, se regsverteenwoordiger is bekommerd oor wat hy beskryf as onregverdige behandeling deur die Madlanga-kommissie. Dali Mpofu voer aan Senona is herhaaldelik toegang geweier tot inligting wat nodig is om op bewerings te reageer en moes verskeie kere getuig oor kwessies wat voorheen bespreek is. Hy bevraagteken die toepaslikheid van sekere ondersoeklyne en meen die kommissie moet op sy mandaat en verwysingsraamwerk fokus:
# Die vakverbond Saftu sê die onttrekking van die likwidasie-aansoek teen Tongaat Hulett het ‘n verwoestende ramp vir kleinskaalse kwekers, landelike gemeenskappe en die groter suiker-waardeketting afgeweer. Sakereddings-praktisyns, die Nywerheid-Ontwikkelingskorporasie en die Vision Group het ʼn bindende driesydige ooreenkoms bereik wat sowat 250-duisend werksgeleenthede beskerm. Saftu se hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, sê Suid-Afrika kan nie ʼn inklusiewe ekonomie bou terwyl hy toelaat dat strategiese produktiewe sektore misluk nie:
# AfriForum sê grondeienaars, boere en gemeenskappe moet voorberei vir ‘n moontlike strawwe winterveldbrandseisoen. Dit volg op ‘n vooruitsig van die Nasionale Rampbestuursentrum wat hoë brandgevare in dele van Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Gauteng, Limpopo en Noordwes toon weens warm, droë en winderige toestande. Tarien Cooks van AfriForum sê bogemiddelde temperature, sterk wind, digte plantegroei en moontlike El Niño-toestande kan die gevaar van vinnig-verspreidende veldbrande in die komende maande verhoog:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Al-Kaeda-geaffilieerde militantegroep het aanspreeklikheid aanvaar vir die dodelike aanval op Niger se grootste lughawe. Vyf-en-dertig mense is dood toe gewapende mans losgebrand het op die Diori Hamani-internasionale Lughawe en militêre basis in die hoofstad, Niamey. Die lughawe en militêre basis is op dieselfde perseel. Die slagoffers sluit in 22 aanvallers, 11 soldate en twee burgerlikes. Dit is die tweede aanval op die lughawe vanjaar nadat 20 aanvallers in Januarie dood en vier militêre personeellede beseer is.
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het bevestig dat die veteraan-stut James Slipper sy uittrede omgekeer het en ingesluit is in die groep vir volgende maand se Nasieskampioenskaps-toetse teen Ierland, Frankryk en Italië. Die 37-jarige het in Oktober uitgetree na ‘n rekord 151 toetse vir Australlia, maar Schmidt het hom gevra om terug te keer weens ‘n beseringskrisis in die voorry. Schmidt het ook die loskopstut Angus Bell gekies na sy sabbatsverlof by Ulster in Ierland, en die nuwelinge Declan Meredith, Lachlan Shaw en Miles Amatosero ingesluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-382-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-166-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 79-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….