Nuus 13:00
BULLETIN 18 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Malema dring aan die ampsklagkomitee moet Ramaphosa se interdik-aansoek teenstaan
# ‘n Kanadese toeris word doodgeskiet in die Krugerwildtuin
# En FOSA sê die inkomende minister van Landbou moet voorkeur gee aan bek-en-klouseer en grondhervorming
# Die EFF-leier, Julius Malema, het die Parlement se onafhanklike ampsklagskomitee gevra om president Cyril Ramaphosa se dringende hofaansoek te betwis. Dit vra dat verrigtinge rondom die Phala Phala-saak gestaak word. Malema het reageer nadat die Parlement se Grondwetlike en Regsdienste-kantoor vanoggend aanbeveel het die komitee moet die aansoek teenstaan en sy werk voortsit, maar onafhanklik en onpartydig bly in sy grondwetlike pligte. Malema sê die proses moet nie vertraag word nie:
# ‘n Kanadese toeris is gisteraand in die Krugerwildtuin doodgeskiet. Die voorval het plaasgevind in ‘n piekniekgebied naby die Phabeni-hek wat deur ‘n privaat operateur bedryf word. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê ‘n privaat gids verbonde aan die operateur het na bewering per ongeluk ‘n vuurwapen afgevuur wat die 69-jarige gas noodlottig getref het. Hy sê die onderneming het ‘n geldige permit om die terrein te bedryf:
# Forum for South Africa verwelkom John Steenhuisen se verwydering as minister van Landbou. Partyleier Geordin Hill-Lewis het gister ‘n reeks veranderings aangekondig aan die DA se verteenwoordiging in die regering. Dit sluit in dat Steenhuisen vervang word met Willie Aucamp. FOSA se leier, Tebogo Masholompane, sê Steenhuisen het boere in die steek gelaat met sy hantering van bek-en-klouseer. Hy sê Aucamp moet voorkeur gee aan siektebeheer en landbou-biosekerheid, en grondhervorming versnel:
# Eskom se uitvoerende hoof, Dan Marokane, sê gunstige beleid, infrastruktuurbeplanning en beleggersbelangstelling het perfekte toestande geskep om gas-tot-krag-geleenthede in Suid-Afrika van stapel te stuur. Hy het op die Afrika-energieforum in Kaapstad gesê die eerste gas-tot-krag-verkrygingsronde het tenders gelok wat die teiken van twee-duisend-megawatt oorskry het. Marokane sê gas sal energiesekerheid versterk, hernubare energie-uitbreiding ondersteun en nywerheidsgroei aanvuur. Hy waarsku egter Suid-Afrika moet vinnig optree om hierdie geleentheid aan te gryp.
# Sokker: Die 40-jarige doelwagter van die Kaap Verdiese Eilande, Josimar Dias, algemeen bekend as Vozinha, het tydens die Wêreldbekertoernooi ‘n reuse-sensasie geword, met sy Instagram-profiel wat tot ‘n reuse-getal van agt-miljoen volgelinge gegroei het. Dit het gebeur na hul geskiedkundige gelykopstryd teen Spanje. Spanje het 27 keer die doelhok aangeval en met 74-persent balbesit oorheers, maar Vozinha het sewe kritieke skoppe afgekeer. Hy is daarvoor as die Speler van die Wedstryd aangewys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-228-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-267-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 77-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….