Nuus 13:00
BULLETIN 12 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie herbevestig sy verbintenis tot ‘n inklusiewe verkiesing
# Die DA vra die burgemeester se dringende ingryping met watervoorsiening in Parktown-Wes en omliggende gebiede
# En: Die Wêreldbank verlaag sy globale groeivoorspelling vir 2026 tot 2,5-persent weens die Iranse oorlog
# Die Verkiesingskommissie sê hy is steeds daartoe verbind om te verseker dat alle Suid-Afrikaners ten volle aan verkiesings kan deelneem. Die hoofbestuurder vir Burgerlike en Demokrasie-onderrig en -navorsing, Moagisi Letlhaku, het die kommissie se steun vir inklusiewe deelname en toeganklikheid vir gemarginaliseerde gemeenskappe herbevestig. Sy het kiesers verseker dat stembriefgeheimhouding beskerm word deur ‘n beskermende stembrief, wat kiesers met siggestremdhede help om hul stemme onafhanklik en vertroulik uit te bring. Die OVK sê inklusiewe en toeganklike verkiesings bly sentraal tot die versterking van demokrasie en die beskerming van elke burger se reg om te stem.
# Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, sê die skokkende onthullings van sistemiese wangedrag wat die Staatskaping- en Madlanga-kommissies blootgelê het, is tekortkominge in menslike gedrag, eerder as ‘n gebrek aan vaardighede of ervaring. Gcaleka het dié opmerkings gemaak tydens ‘n winterskoolbyeenkoms vir godsdiensleiers aan die Universiteit Stellenbosch in die Wes-Kaap. Die Openbare Beskermer sê bewyse wat aan die kommissies gelewer is, toon diegene wat oortredings gepleeg het, was dikwels goed opgelei en ervare. Sy voeg by die land moet verseker die onderwysstelsel plaas meer klem op etiek en karaktervorming.
# Die DA in Johannesburg vra die burgemeester Dada Morero om dringend die langdurige onderbreking in watervoorsiening aan te spreek. Dit raak inwoners wat deur die berugte Commando-waterstelsel voorsien word. Gemeenskappe wat strek van Parktown-Wes tot Brixton is reeds bykans twee weke sonder water, nadat Rand Water aan die einde van Mei met instandhoudingswerk begin het. Kyle Jacobs van die DA sê die belofte van ‘n roetine-ingryping het in ‘n volskaalse krisis ontaard:
# Die Wêreldbank sê die Iranse-oorlog sal na verwagting internasionale ekonomiese groei tot sy laagste vlak dryf sedert die Covid-19-pandemie en hernude vyandelikhede kan dit verder knou. Globale ekonomiese groei word vanjaar op 2,5-persent voorspel, van die 2,9-persent in 2025. Die bank waarsku groei kan tot slegs 1,3-persent daal as energievoorsiening ernstig ontwrig word en finansiële markte onder druk is. Die Wêreldbank voorspel ook groei in ontwikkelende lande sal vanjaar tot ‘n ná-pandemie laagtepunt van 3,6-persent daal, vergeleke met 4,4-persent in 2025.
# Krieket: Die besturende direkteur van Engeland en Wallis se Krieketraad, Rob Key, sê hulle oorweeg om ‘n totale alkoholverbod vir mans-spelers in te stel terwyl hulle vir die nasionale span speel. Dit volg nadat Engeland se kaptein, Ben Stokes en bouler Gus Atkinson ondersoek word na ʼn voorval Maandag in die vroeë oggendure by ʼn nagklub in Chelsea. Die twee is nie gekies vir volgende week se tweede toets teen Nieu-Seeland nie. Key sê hy gaan nie oorhaastig besluit oor Stokes se toekoms as kaptein nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-779-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-223-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 85-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….