Nuus 13:00
BULLETIN 10 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement sê die bek-en-klouseer-entstof-agterstand sal teen middel Junie uitgewis wees
# Sokker: Spanje, Frankryk, Denemarke en Duitsland kwalifiseer vir die Vroue-Wêreldbekertoernooi
# En die Universiteit Stellenbosch tree streng op teen dagga-gebruik in koshuise
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Landbou sê Suid-Afrika maak goeie vordering met die beheer van bek-en-klouseer. Die agterstand met entstof sal na verwagting teen die middel van dié maand uitgewis wees. Die komitee sê 13,5-miljoen dosisse is bestel, waarvan 11,5-miljoen reeds afgelewer is deur verskaffers in Argentinië en Turkye. Van die jongste 3.5-miljoen dosisse wat ontvang is, sal 1,2-miljoen aan provinsies voorsien word. Die komitee sê laboratorium-toetsvermoë is uitgebrei en nuwe diagnostiese aanlegte in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap sal na verwagting waarnemings en teenoptrede versterk.
# Die vakbondfederasie SAFTU sê die land ondervind ‘n toenemende krisis van deïndustrialisering, massawerkloosheid, fabrieksluitings, ineenstortende staatsvermoë en ‘n groeiende afhanklikheid van ingevoerde vervaardigde goedere. Die ekonomie het in die eerste kwartaal van vanjaar met 0,5-persent gegroei , met die vervaardigingsektor wat steeds die ekonomie belas. Asive Dyani van SAFTU sê ‘n ekonomie wat groei op die rug van finansies en eiendom terwyl vervaardiging ineenstort, dien nie werkers nie:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Valke het op die Durbanse hawe beslag gelê op 30 blokke kokaïen. Dit volg dae nadat beslag gelê is op ‘n groot dwelmbesendingop dieselfde hawe toe sowat 90 kilogram kokaïen gevind is wat op vragmotors van Brasilië versteek was. Die Valke se woordvoerder, Katlego Mogale, sê na intelligensie-geleide risikoprofiel-samestelling en teikenmetodes is ʼn vragskip uit Brasilië geïdentifiseer om geïnspekteer te word:
# Sokker: Die huidige kampioen, Spanje, Frankryk en Denemarke het by Duitsland aangesluit en regstreeks gekwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi vir vroue in Brasilië. Spanje het Ysland 6-1 geklop, Frankryk het ‘n naelskraapse oorwinning van 1-nul oor Ierland behaal, en die Dene het Serwië oortuigend 4-1 verslaan , terwyl Duitsland Slowenië 2-0 geklop het in hul laaste kwalifiseringswedstryd. Engeland, Oostenryk, Ysland, Italië, Nederland, Noorweë, Pole, Ierland, Serwië, Slowenië en Swede het intussen vir die uitspeelwedstryde gekwalifiseer. Die loting sal volgende Donderdag plaasvind.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-836-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-166-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit Stellenbosch het nuwe koshuisreëls ingestel wat die gebruik, besit en rook van dagga in studenteverblyf verbied. Die instelling sê die besluit volg wettige riglyne oor of koshuiskamers as privaat ruimtes beskou kan word, veral as studente kamers of gange deel. Die dekaan van Studente, Leslie van Rooi, sê gedeelde woonplekke voldoen nie aan die wettige omskrywing van privaatheid nie. Hy sê die universiteit is bekommerd oor onwettige verkope in koshuise, maar die gebruik van dagga vir mediese en godsdienstige doeleindes word oorweeg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….