Nuus 13:00
BULLETIN 24 August 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Lasbrief word uitgereik vir Jub Jub se inhegtenisneming na hy versuim om in die hof te verskyn
# Gauteng ontvang 28-duisend bykomende dosisse Lenacapavir om MIV-voorkoming uit te brei
# En rugby: Min veranderings aan die Bokspan vir die tweede toets in Kaapstad
# ‘n Lasbrief is uitgereik vir die TV-persoonlikheid Molemo “Jub Jub” Maarohanye se inhegtenisneming nadat hy nie vanoggend in die Germistonse Landdroshof in Gauteng verskyn het nie. Die kletsrymer en aanbieder van Uyajola 9/9 staan tereg op aanklagte van ontvoering, die aanranding van ‘n e-taxi-bestuurder en die afvuur van ‘n vuurwapen tydens ‘n geskil in Edenvale in Junie. Die hof het gelas dat die lasbrief eers op 7 September in werking sal tree wanneer Maarohanye weer in die hof moet wees.
# Die Wes-Kaapse Departement van Beweeglikheid voer gesprekke met belanghebbendes nadat vier mans verlede week dood en twee gewond is in taxiverwante geweld in twee afsonderlike skietvoorvalle in Kaapstad. ‘n Informele handelaar is Saterdag doodgeskiet op die taxistaanplek in Dunoon. Die taxi-organisasie SANTACO in die Wes-Kaap sê die motief moet nog vasgestel word. Woordvoerder Muneera Allie sê amptenare is diep bekommerd en bespreek maatreëls om bestendigheid te herstel terwyl die polisie die voorvalle ondersoek.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het nog 28-duisend-593 Lenacapavir-aanvangspakkies ontvang om in 133 gesondheidsgeriewe te versprei. Die nuwe ses-maandelikse inspuitbare middel is meer as 96-persent doeltreffend met die voorkoming van MIV. Woordvoerder Steve Mabona sê die jongste besending sal kliniek-voorraad aanvul in Tshwane, Johannesburg en Sedibeng wat tydelike tekorte ervaar het ná die hoë vraag. Hy sê Gauteng beoog om teen Maart volgende jaar 114-duisend-160 geskikte gebruikers op Lenacapavir te plaas:
Nuus uit die buiteland:
# Nieu-Seeland se eerste minister, Christopher Luxon, gaan ‘n nuwe wetsontwerp in die Parlement indien wat voorstel dat onder-16s verbied word op sosiale mediaplatforms. Wetsontwerpe moet drie stemrondes slaag voor dit bekragtig kan word. Australië het verlede jaar die eerste land geword om toegang tot sosiale media vir onder-16s te verbied. Luxon sê sosiale media stel kinders bloot aan skadelike inhoud, verslawende tegnologie en druk wat hulle nie kan hanteer nie:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het geringe veranderings aan die span gemaak vir Saterdag se tweede toets teen die All Blacks in Kaapstad na hulle die eerste toets teen die aartsvyand op Ellispark 33-16 verloor het. Siya Kolisi sal terugkeer as hy fiks is, andersins behou Paul de Villiers die nommer-ses trui. Handré Pollard en Cobus Reinach begin as skakelpaar, met Sacha Feinberg-Mngomezulu op die bank. Ethan Hooker vervang die beseerde vleuel Cheslin Kolbe en Pieter-Steph du Toit is kaptein in sy 100ste toets.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-440-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-637-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….