Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Opname toon die moontlikheid van ‘n nasionale vlak- koalisie na die verkiesing
# SA mynbou-ongevalle styg met 22-persent in 2023
# En, rugby: Beserings-bekommernisse vir Skotland voor die Sesnasies-kragmeting met Frankryk
# ‘n Onlangse Ipsos-opname dui op ‘n verskuiwende politieke landskap voor die nasionale en provinsiale verkiesing. Die peiling toon beduidende insigte oor die steun van partye, met die ANC wat minder as 50-persent steun ontvang. Die DA sal waarskynlik steeds die amptelike opposisie wees met 20-persent steun, terwyl die EFF steeds ‘n groot uitdaging bied met 18-persent. Hierdie bevindings volg namate president Cyril Ramaphosa na verwagting die verkiesingsdatum sal aankondig tydens môre se Parlementsopening. Die moontlikheid van koalisies op nasionale vlak maak die uiteindelike verkiesingsuitslag ingewikkeld.
# Die mynbedryf in Suid-Afrika het verlede jaar 55 sterftes aangeteken, ‘n toename van 22-persent vanaf 45 sterftes in 2022, ten spyte daarvan dat dit ‘n rekord lae syfer was. Die Mineraleraad Suid-Afrika wys op die verbetering van veiligheid, maar beskryf die groot voorval by Impala Platinum in November as ‘n terugslag. Vyftien sterftes het in algemene ongelukke voorgekom, 14 in rotsstortings en 13 in vervoervoorvalle. Die raad se woordvoerder, Dushendra Naidoo, vra strenger toepassing van veiligheidsmaatreëls in die bedryf.
Die Benchmark-stigting verwelkom intussen die mynregte-stelsel vir maatskappye wat binne ‘n jaar in werking behoort te tree. Die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, het op die Afrika-mynindaba in Kaapstad gesê die regering beywer hom om die agterstand met aansoeke uit die weg te ruim om soektogte te aktiveer. Die stigting se hoof-navorser, David van Wyk, het aan Newzroom Afrika gesê daar moet gelet word op moontlike uitdagings:
# Die gesinne van die Suid-Afrikaanse ingenieurs, Frik Potgieter en Peter Huxham, pleit vir hulle vrylating na ‘n jaar van aanhouding in Ekwatoriaal-Guinee. Hulle is aangekeer op twyfelagtige dwelmaanklagte te midde van gespanne verhoudings tussen die twee lande. Die gesinne beklemtoon daar is ‘n dringende behoefte dat die regering moet ingryp. Die gesinne is teleurgesteld oor die trae pogings van die Suid-Afrikaanse regering en dring aan op vinnige optrede om die nood en ontwrigting wat die onwettige en arbitrêre aanhouding van hul geliefdes meebring, te beëindig.
# Rugby: Skotland se voorbereiding vir Saterdag se Sesnasies-kragmeting met Frankryk in Edinburgh het ‘n terugslag gekry met die nuus dat twee spelers die res van die kompetisie gaan misloop. Die slot Richie Gray en die flank Luke Crosbie is albei beseer tydens die oorwinning met een punt oor Wallis in die openingsronde. Die heelagter Blair Kinghorn sal na verwagting ook die naweek se wedstryd misloop nadat ‘n kniebesering hom uit die openingswedstryd gehou het. Die vleuel Darcy Graham en die stut WP Nel sal na verwagting hierdie week weer begin oefen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-951-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-32-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….